10 Junie 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

‘n Aanhaling wat my altyd bybly, en wat vir my baie kosbaar is, is dié van Lewis Smedes wat gesê het: ”God sal red, en selfs al red Hy nie, dan red Hy nogsteeds.”

God sal red – Hy gee in elke omstandigheid uitkoms. Dis tog waarmee ons gelowig en biddend elke dag besig is: om God se wil en uitkoms vir ons in die ongemaklike lewensituasies te soek.
Maar soms red God nie … soms kom daar nie uitkoms nie. Soms bly ek siek, of word my krisis nie opgelos nie. Ja, soms gaan ek dood …
Geloof herinner my egter dat, deur die kruis van Jesus heen, ek altyd gered is, altyd verlos, altyd veilig in God se hande. Selfs die dood is vir my net ‘n tree na God toe. God red my altyd!

In Romeine 14 : 7 & 8 skryf Paulus:
“⁷Niemand van ons leef tog vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
⁸As ons lewe, leef ons tot eer van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.”

Of ek leef, en of ek sterf, ek behoort aan die Here.
Of ek siek is en pyn ervaar, en of ek gesond is, ek behoort aan die Here.
Of ek ryk is, en of ek arm is, ek behoort aan die Here.
Of ek veilig is, en of ek in doodsgevaar is, ek behoort aan die Here.
Of daar die gevaar van Covid-19 is, of nie, ek behoort aan die Here.

Weet asb. vandag: jy behoort aan die Here, en Hy sal jou altyd red.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.