14 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Ons almal bid; en in hierdie Covid-19-tyd dalk meer as ooit tevore. Ons almal kom met ons versoeke en pleidooie voor die Here. As God vir my “ja” sê, is dit fantasties! As God “nee” sê is dit moeilik, maar ek sal dit vat. As God sê “nie nou nie” is die swaar, maar ek weet daar sal uitkoms kom. As ek God se stem gewoon nie kan hoor nie, kan ek tog nog probeer om harder te luister. Maar as God stilbly, is dit van die bitterste bitters! Daardie leë, dooie gevoel wanneer die stilte van God oorverdowend in my ore skree …

Dawid beleef só ‘n stilte van God in Psalm 28 : 1 en 2:
“¹Van Dawid.
Ek roep na U, Here, my Rots,
moet tog nie doof wees vir my nie.
As U bly swyg, sal ek wees soos ‘n sterwende.
²Hoor my smeekstem
as ek na U roep om hulp,
as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel.”

Dawid beleef die Here se stilswye as dat die Here hom glad nie eens hoor nie! Hoeveel keer het ek nie al beleef my gebede gaan nie verder as die plafon nie? Tye wanneer ek smag om net iets (so groot soos ‘n mosterdsaadjie dalk?) van God te hoor of beleef …

Maar hoor Dawid se opgewondenheid in verse 6 en 7:
“⁶Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het my smeekstem gehoor.
⁷Die Here is my sterkte en my beskermer,
op Hom het ek vertrou.
Hy het my gehelp.
Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.”

God bly nie vir altyd stil nie! God hoor die smeking van sy dienskneg. Geloof word nie beskaam nie, daarom kan Dawid sy geloof en vertroue in die Here herbevestig. Dawid se nood gaan oor in uitkoms; vertwyfeling gaan oor in lof; vrees gaan oor in vreugde.

Ja, God sê soms “nee”, of “nog nie”, of niks nie … maar dit verander nie wie Hy is nie, en daarom moet dit ook nie my geloofsvertroue in Hom vernietig nie. Want God bly nooit vir ewig stil nie. Inteendeel, iemand skryf dat Jesus God se groot “JA” aan die wêreld is. Jesus is dié Woord (Joh. 1 : 1) wat God tot die wêreld spreek. Heb. 1 : 2 herinner ons: “… maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy (God) met ons gepraat deur die Seun.” God is nie stil nie, God sê: “Jesus!”

Daarom: wanneer die stilte dalk te veel word, kyk na die kruis, dáár is God se groot liefdes(ant)woord vir jou!

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.