19 Maart 2020

Aangesien ons (soos baie ander kerke/gemeentes) tans in die lig van die Korona-virus, gemeentelike samekomste vir eers opgeskort het, t.w.v. voorsorg en veiligheid, neem ek die vrymoedigheid om langs hierdie weg met jou iets uit die Bybel te deel – deel dit gerus met jou gesinslede (moontlik as huisgodsdiens?)

LEES: Lukas 24 : 13 – 35
Dit wat tans in die wêreld/Suid-Afrika/Bloemfontein rondom die Korona-virus aan die gang is, bring nogal gemengde gevoelens by ‘n mens op. Aan die een kant maak mense ons bang met vreeslike stories. Aan die ander kant besef ons dat daar bepaalde realiteite rondom hierdie pandemie is waaroor ons realisties en eerlik moet wees. Maar veral weet ons dat as gelowiges en kerk ons leef met hoop. Nie hoop as ‘n veraf wens of droom nie, maar met die hoop in die lewende almagtige God.
In Lukas 24 lees ons van die Emmausgangers wat na Jesus se kruisdood alle hoop verloor het – vers 21: “Ons het so gehoop … Maar …”. Dit kan maklik gebeur dat ons (en die wêreld) hoop verloor. Maar hoekom het die Emmausgangers hoop verloor? Ek dink dis omdat hulle dit nie kon sien nie. Hulle het vasgekyk in wat hulle gesien en gehoor het, in hulle onmiddelike omstandighede en belewenis daarvan – en dít het hulle gemoed, optrede en woorde bepaal.
Maar toe hulle vir Jesus herken, en Hom ontdek as die lewende Here, het alles verander. Hulle verstaan skielik hoekom hulle harte warm geklop het. Hulle beleef weer vreugde, opgewondenheid … HOOP! En wat doen hulle? Hulle gaan vertel!
Ons sien en lees en hoor baie stories van hoe mense in hierdie uitdagende tyd mekaar help en bemoedig en inspireer, en dis wonderlik! As gelowiges het ons egter veel méér:
1 Pet. 1 : 3 – 4: “Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, ONBESMETTE, en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”
Kom ons hou daaraan vas. Ons ís verantwoordelik. Ons sien om na mekaar en dié wat swakker af as onsself is. Maar veral: kom ons deel en praat van die hoop wat ons het in die lewende Jesus, ons ewige Verlosser.

https://www.facebook.com/photo.php?fbid=3044660732268439&set=a.538813072853230&type=3&theater

Posted in nuus.