24 April 2020 – nuutste reëlings

Goeie dag Heuwelkruin

Ons het gisteraand gehoor dat die president afgekondig het dat daar van 1 Mei ‘n stelselmatige en beplande opheffing van die inperkingsregulasies gaan wees. Ons is dankbaar daarvoor, veral vir ons besigheidsmense en diegene wat afhanklik is van die ekonomie. Ons is dankbaar dat ons bietjie meer vryelik sal kan beweeg vanaf 1 Mei. Mag ons steeds verantwoordelik optree in hierdie uitdagende tyd, vir eers sosiale afstand handhaaf, en volhard met goeie higiëniese praktyke.

Uit die aard van die saak sal ons vir geruime tyd nog nie eredienste in die kerkgebou (in elk geval nie soos ons gewoond geraak het) kan hê nie – en dis vir ons sleg, maar ons sal ook daarby aanpas. Dus, vir die huidige, sal eredienste in die vorm van e-eredienste via ons gemeente se Youtube-kanaal en stemboodskappe aan julle deurgestuur word. Ds Mauritz sal ook voortgaan om daagliks oordenkings aan julle uit te stuur via Whatsapp-groepe.

Wat betref kleingroepbyeenkomste (Bybelstudie- en Omgeegroepe) en alle ander gemeentelike aktiwiteite, sal ons weldra, soos ons die lig van die inperkingsregulasies begin interpreteer, vir julle in kennis stel oor wanneer dit weer begin – natuurlik met verantwoordelikheid en veiligheid in die oog.

Intussen bid ons vir mekaar; dra en bemoedig ons mekaar met die lewende hoop in Jesus Christus, die opgestane Here.

Ons neem ook vrymoedigheid om julle te herinner om julle finansiële bydraes vir die werksaamhede van die gemeente by te hou.

Kontak gerus vir ds Mauritz (079 895 3916) vir enige navrae.

Heuwelkruingroete

Wees veilig, vertrou in die Here

Posted in nuus.