26 Maart 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Vanaand 24:00 maak Suid-Afrika vir 21 dae toe … niemand van ons het dit sien kom, of in ons wildste drome verwag nie. My ma het altyd gesê (as ek gedink het iets slegs het met my gebeur): “Man, in die oorlog is daar mense dood!”. Dit voel soos oorlog, nie net omdat my vryheid, gemak, sosiale interaksies en selfs hoop bedreig word nie, maar omdat mense letterlik dood gaan …

Ek lees 2 Korintiërs 1 : 3 – 4: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerhande moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,”.
Paulus skryf vanuit sy eie nood, hartseer en persoonlike stryd. Sy konteks en tyd is anders as ons s’n; sy stryd oor ander redes. Maar sy troos en hoop deel ons, want ons het dieselfde Bron van lewe. Daarom kan ons saam Paulus ontdek:
* “Hy is die God wat Hom ontferm en die God wat … uitkoms gee.” Dít is ons God – die God wat omgee en uithelp. Daarom kan jy Hom vertrou ook in hierdie moeilike tyd. Ontdek God se ontferming oor jóú, omhels dit, soek dit, beleef dit. Hy is werklik die God wat in hierdie tyd nader aan jou kom staan.
* “Daarom kan ons weer ander help” en “hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,”. In die ontdekking van God se ontferming en innige omgee, ontdek ons die boodskap wat ons na die wêreld neem – God ontferm; God gee uitkoms; Hy is inderdaad wie Hy sê Hy is: LIEFDE.

In hierdie Lydenstyd ontdek ons opnuut vir Jesus aan die kruis as die Ontfermende God, as die Uithelpende God. Jesus neem jou sondes weg, Hy skenk jou die lewe, en Hy stuur jou die lewe in met ontferming en deernis vir ander.
Mag ons leer, wanneer mense vra: “Waar is God?” om te antwoord: “Dáár is God!”

Vir kennsname:
President Ramaphosa het die volgende oproep gedoen: “calls on citizens to observe two minutes of prayer, reflection or silent meditation on Thursday 26 March 2020 between 18:00 and 18:30 hours.” Ons nooi jou om vanaand in hierdie tydsgleuf, saam met ons mede-landsburgers, tyd vir gebed te maak.

Wees veilig, vertrou op die Here

(Foto hieronder met erkenning aan Bessie Vermeulen – mirror photography, light at the end of the tunnel)

Posted in nuus.