29 Maart 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Hieronder is die skakel na die boodskap op Heuwelkruin se Youtube-kanaal. Jy is welkom om daarna te kyk. Hierdie is ‘n eerste poging, hoop dit help jou om te midde van die inperking tog iets van die gemeenskap van gelowiges te beleef.

https://www.youtube.com/watch?v=deogzGeyDDk

Wees veilig, vertrou op die Here


Hier onder volg die teks soos gebruik in die video wat op Youtube geplaas is (vir diegene wat nie toegang tot data en/of Youtube het nie)

Mag jy gegroet wees in die Naam van God Drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees. Mag sy genade, barmhartigheid en vrede in oorvloed by jou wees.

Die Korona-virus en Covid-19 is besig om ons aarde en sy mense pak te gee. Na dese sal ons wêreld waarskynlik nooit weer wees soos ons dit geken het nie. Ons sal vir seker nuut en anders moet begin dink oor die basiese dinge wat ons in die lewe dalk as vanselfsprekend aanvaar het, of nie die waarde van besef het nie.

Hierdie tyd bring onsekerheid en vrese. Dit maak emosies los by ‘n mens. Die bring baie vrae. En daarom gryp ons noodwendig terug na sekerhede. Na dit wat vir my hoop en troos bied in hierdie tyd. Vir my persoonlik is Johannes 10 een van daardie kosbare gedeeltes.  Kom ons lees dit saam:

LEES: Johannes 10 : 1 – 16

Jesus gebruik hier ‘n paar kosbare beelde:
1. Hy sê: “Ek is die ingang vir die skape…” Destyds het die skaapwagters klein kraaltjies van takke of klippe vir hulle skape gebou. Hulle het nie groot troppe gehad wat hedendaagse boere het nie. Hierdie kraaltjies het egter nie hekke gehad nie. Slegs ‘n nou opening waar die skape basies een-een kon ingaan. Die was die gewoonte dat die herder/skaapwagter in daardie opening geslaap het in die nag. Dus: geen skaap kon uitkom nie, maar geen roofdier of skelm kon by die skaap uitkom nie.
Deur te sê: “Ek is die ingang vir die skape…” identifiseer Jesus met hierdie beeld om vir ons te herinner en verseker: met Hom as ons herder is ons veilig. As sy kudde, sy skape, is ons veilig, want Hy pas ons op.
Maar ook meer: nie net pas hy ons op nie, maar Hy is/word die weg waardeur mense toegang kry die kraal. Jesus is nie net die oppasser nie, maar ook die Redder van sy skape …

2.  “Ek is die goeie herder.” Natuurlik bring dit ons dadelik by ‘n teksgedeelte soos Psalm 23: “Die Here is my Herder.” Waarmee Jesus Homself kom identifiseer as ons Here. As ons Koning. As ons Bewaker en Oppasser.

3. “Die Goeie herder lê sy lewe af vir sy skape.” Geen boer of skaapwagter sal sterf sodat sy skaap kan oorleef nie. Maar God se ekonomie werk anders as ons s’n. In God se koninkryk lê herders hulle lewens af vir skape. En as ons dalk nog daaroor kon wonder, bewys Jesus dit aan die kruis – aan die kruis word hy inderdaad die Goeie Herder wat sy lewe vir die skape (vir jou en my) aflê, sodat ons kan lewe!

4. “Ek ken my skape”. Jesus ken ons. Hy weet wie ons is. Hy ken ons lewens en ons wêreld. Maar Hy is ook die Herder wat deur ons geken wil word. Wat juis in hierdie intieme verhouding met ons staan waar ons mekaar se stemme begin ken en herken. Die skaapwagter ken sy skape. Jesus as die Goeie Herder staan in ‘n intieme verhouding met sy skape, en sterf vir hulle. Daarom die uitnodigende opdrag: volg die Goeie Herder en sy stem …

5. Maar luister wat sê Jesus in Johannes 10 : 28 – 30:
“28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

Jesus gee ons die ewige lewe, en ons sal nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit sy hand ruk nie … Ek en jy sal nooit verlore gaan nie, want ons behoort aan Hom. Rom 8 : Niks kan ons van die liefde van God skei nie … niks! Daarom het ons hoop, want ons word deur Jesus in veilige bewaring gehou …

Dié wat aan Jesus behoort, is die belangrikste van almal: Ek en jy is vir Jesus, vir God, baie kosbaar. Kosbaarder as enigiets anders … vir Jesus selfs kosbaarder as sy eie lewe.

Mag jy in hierdie tyd gekoester wees deur die wete dat God, in Jesus, vir jou onmeetbaar lief is, en jou oppas.

Posted in nuus.