31 Maart 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons is in dag 5 van die inperking. “Wat? Nou eers dag 5!? Van 21? Ek gaan dit nie maak nie!”
Hierdie tyd stel besondere uitdagings aan elke persoon. Frustrasie, bekommernis, vrees, angstigheid, depressie, woede, hartseer, verlange: hierdie is maar enkele van die emosies wat ons tans deurgaan, én wat in die volgende paar weke saam met ons gaan wees.

In Klaagliedere skryf Jeremia aan ‘n volk in ballingskap – nie vir 21 dae nie, maar vir 70 jaar! ‘n Mens kan jou net indink wat hulle moes deurgaan. En boonop het die vernietiging van Jerusalem en die tempel hulle laat voel asof God nie meer daar is nie en dat God in die ballingskap van hulle vergeet het.

In Klaagliedere 3 skryf Jeremia hierdie aangrypende woorde vir die volk in ballingskap:
21 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.
24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.

Drie dinge staan vir my uit:
1. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie … God hou ons in moeilike omstandighede deur sy genadige liefde in stand,
2. Daar is geen einde aan sy ontferming nie … daar is geen einde aan God se liefdevolle omgee hart vir sy kind nie.
3. Dit is elke môre nuut … elke dag wat ek deur sy krag en genade my oë oopmaak om ‘n nuwe dag te sien, is ‘n gawe uit sy hand; en is die Here reeds by my, begin Hy die dag nuut saam en in my lewe.

Mag jy ook vandag en elke dag sê: “… daarom hoop ek op Hom.”

Seën vir jou vandag. Wees veilig, vertrou in die Here.

Posted in nuus.