4 Junie 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons almal het ‘n prentjie in ons kop van hoe God lyk. As ek aan die Vader dink, sien ek hierdie helder wit figuur wat op ‘n troon sit, omring deur helder blou. As ek aan Jesus dink, sien ek hierdie man met die lang kleed en lang hare en baard. Ek het prentjies in my kop van hoe die Vader en die Seun lyk. Maar hoe lyk die Heilige Gees? Hy word dikwels met die beeld van ‘n duif uitgebeeld (n.a.v. tekste soos Mat. 3 : 16)

Ek dink dis omdat ons prentjies in ons verbeelding het van die Vader en die die Seun dat ons makliker met hulle kan assosieer, én ‘n verhouding met hulle kan hê. Met die Heilige Gees is dit egter anders. Dalk omdat ons nie ‘n beeld van Hom kan vorm nie, bly Hy vir ons in ‘n sekere mate vreemd, onbekend en ver. Tog is die Heilige Gees ‘n realiteit, ‘n Persoon van die Drie-eenheid, en ons kan Hom ken en ‘n verhouding met Hom hê, soos met die Vader en die Seun.

Wat my gehelp het om die Gees beter te verstaan, is die beeld van die wind. Jesus gebruik hierdie beeld om wedergeboorte vir Nikodemus te verduidelik in Johannes 3:
“⁵Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. ⁶Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. ⁷Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. ⁸Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Ons kan nie wind sien nie, maar ons kan sien wat die wind doen wanneer die herfsblare rondgewaai word. Só met die Heilige Gees ook: ons kan Hom nie sien nie, maar ons kan sien wat Hy doen! Ons kan sien hoe Hy in ons lewens en in die wêreld werk. Ons kan hoor hoe Hy in ons harte fluister; hoe Hy deur die stemmetjie van ons gewete praat; hoe Hy God se Woord vir ons oopmaak; hoe Hy my woorde gee om te bid; hoe Hy my lei en leer.

Ons kan nie die Gees sien nie, maar ons kan sien wat Hy doen. Daarom moet ons leer om Hom te ontdek en sien in die wyse waarop Hy in ons lewens werksaam is; én in die wêreld. Dalk moet ons sy Naam meer begin noem. Dalk moet ons sy teenwoordigheid as lewende werklikheid in ons lewens begin ontdek en erken. Dalk moet ons Hom meer begin sien in dit wat Hy in ons lewens doen.

Daarom: leer ken die Heilige Gees, en jy gaan God se hart op nuwe maniere leer ontdek.

Mooi dag vir jou.

Ds Mauritz

Posted in nuus.