5 April 2020 – Palmsondag

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Hier is die skakel na die video-diens op Youtube.

https://youtu.be/MLVPJsmZsJ4

Dit is vandag Palmsondag. Die kerk oor die wêreld heen herdenk vandag Jesus se intog in Jerusalem, en daarmee saam die begin van die laaste week voor Jesus se kruisiging op Goeie Vrydag.
Saam met die kerk oor die wêreld getuig ons saam met skare op daardie dag:
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!
Prys Hom in die hoogste Hemel!

Mag die genade, goedheid en vrede van die Here vandag in oorvloed by jou wees …

Gebed:
Ewige God,
u woord maak die geskreeu van die magtiges stil.
Laat die verhaal van u Seun se lyding en dood ook nou deur die stemme in ons kop indring
sodat ons deur die krag van u Gees
die genade sal ontvang om in Christus se liefde
ons lewe aan u diens te wy.

Skriflesing:
Vandag is die begin van die groot Stilweek – ons raak stil in ons nadenke oor die laaste week van Jesus se lewe en bediening in aanloop tot sy sterwe op Goeie Vrydag. In hierdie week raak ons stil en gebruik ons tyd om na te dink oor die kruis van Jesus, oor die betekenis daarvan vir my, en ook hoe die kerk vanuit die kruis van Jesus na die wêreld leef.
Kom ons lees vandag saam uit: Johannes 12 : 12 – 19

Oordenking:
Ons ken die verhaal van Jesus se intog in Jerusalem baie goed. Ek onthou nog goed die prentjies in die Kinderbybel van Jesus op die donkie, die mense wat die palmtakke waai, die klere op die pad voor Hom …
As ons mooi na hierdie prentjie gaan kyk, sien ons ‘n klomp verkillende mense wat hier by Jesus se intog teenwoordig is:

Die Romeine – dit was Paasfees, en die Romeine sou bewus wees van die toestroming van die Jode na Jerusalem, wat beteken het dat daar duisende mense was. Paasfees vas ook ‘n tyd waarin rebelleleiers moeilikheid gemaak het – waarskynlik waarom Barabbas in die tronk was. Daarom vermoed ek dat daar baie Romeinse soldate in Jerusalem sou wees

Maar wat sou hulle van die hele petalje van Jesus se intog gedink het? Ek vermoed dat hulle dalk sou gelag het vir Jesus op die donkie. Hulle was gewoond aan triomftogte. Dan het die generaal van die oorwinnende leër op sy magtige perd voor sy leër uit deur die strate gery, gewoonlik met sy vyande in kettings agter hom aan.
En nou Jesus op ‘n donkie: dit moes vir hulle komies gewees het.

Daar was dié wat Jesus dadelik as die Koning wou eien. Hulle haal die OT aan oor die verwagte Messias. Patriotisme maak dat hulle in Jesus die bevryder van die Romeinse onderdrukking sien … daarom roep hulle: “Prys Hom!, Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en “Die Koning van Israel!” (Wat natuurlik die Romeine nog meer onrustig oor Jesus moes gemaak het)

Dan kry ons die nuuskieriges … wat van Jesus gehoor het, veral oor hoe Hy Lasarus uit die dood opgewek het.  Daarom staan hulle nader om te sien wie hierdie Jesus is…

Daar was die Fariseërs wat met ‘n stuk bekommernis na alles staan en kyk het en jaloers en radeloos net kon uitroep: “Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”

As ‘n mens die evangelies lees kom jy ook agter dat die dissipels nie te gewillig en geneë was met hierdie reis na Jerusalem nie, juis omdat hulle bekommerd was oor die potensiële konfrontasie met die Joodse leiers. En nou hierdie hele bohaai met Jesus se intog in Jerusalem wat juis die aandag van al die verkeerde mense trek!

Wat egter vir my duidelik word is:
1. Dat mense met verskillende verwagtinge na Jesus gekyk het.
2. Dat Jesus mense ongemaklik gemaak het.

En so is dit vandag nog. Uit die reaksies wat ‘n mens die laaste paar weke in die media en veral op sosiale media lees en hoor oor hoe mense God, geloof en godsdiens in hierdie Corona-tyd sien, kom ‘n mens duidelik agter dat mense bepaalde verwagtinge oor God het in hierdie krisis.
*Party soek die Antivirus-God … die God wat my moet beskerm teen hierdie Coronavirus en die onheil van die deur moet weghou.
*Party soek die Pakgee-God … die God wat die wêreld kom straf oor sy boosheid.
*Party soek die God van die Eindtyd … wat in hierdie pandemie die finale oordeel van God sien.
*So kan ons aangaan …

Iets wat in hierdie verhaal van Jesus se intog in Jerusalem vir my uitstaan, is juis die verrassende element daarvan. Jesus doen eintlik presies wat mense aan die een kant óf gehoop het Hy nié doen nie, of aan die ander kant dat Jesus optree op ‘n wyse wat hulle nie verwag het en nie verstaan nie.
Jesus se intog in Jerusalem het een doel: Hy is oppad Golgota toe, kruis toe … die intog in Jerusalem moet ons nie so seer sien as dat dit in die eerste plek oor die moment gegaan het nie, maar dat Jesus hier besig is om die toneel reg te kry vir sy kruisiging.
Daarom dat Jesus juis op ‘n donkie ry: Dit gaan nie oor die dawerende “Hosanna!”s nie, maar oor die Jesus wat gekom het om die wêreld deur sy dood te dien. Jesus leer dit pragtig vir sy dissipels wanneer Hy, die Seun van God, later soos ‘n slaaf hulle voete was.
En daarom het mense Jesus so verkeerd verstaan, en ook so uiteenlopend op Hom gereageer. Want ons weet mos: dieselfde mense wat hier uitgeroep het: “Hosanna, Prys Hom!” is dieselfde mense wat ‘n paar dae later geskree het: “Kruisig Hom!”

So: ons kan voortgaan om ons eie Jesus-beeld te skep. OF: Ons kan van ons agendas vergeet en vir Jesus volg.  Deur nederige, selfopofferende diens. En dat die kerk in hierdie tyd eintlik net een boodskap aan die wêreld het: die kruis van Jesus Christus …

Seën – Numeri 6 : 24 – 26
24“Die Here sal julle seën en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Posted in nuus.