9 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Dit is dag 14 van inperking, maar ook dag 4 in die Heilige-/Stilweek – die tyd waarin die kerk nadink oor die laaste week van Jesus se bediening op aarde vóór sy kruisiging. Om in hierdie tyd stilte te beleef en/of skep is baie kosbaar. Ek wil jou graag uitnooi om vir jou êrens deur die dag ‘n stil tyd te skep:

* Steek vir jou, daar waar jy gaan stil raak, ‘n kers aan – net as simbool van die Here se kosbare teenwoordigheid by jou, nóú …

* Raak bewus van die stilte om jou in hierdie isolasie-tyd. Raak stil in jou binneste, let op jou asemhaling, probeer jou gedagtes stil kry. Fokus daarop dat God nóú met jou ‘n ontmoeting wil hê …

LEES: Lukas 23 : 50 – 56 (lees dit 2 keer stadig en nadenkend deur)

* Sit vir ‘n oomblik met jou oë toe, en probeer die beeld/prentjie van die teksgedeelte in jou gedagtes oproep: Wat sien jy? Wat hoor jy? Wat ervaar jy?

* Kyk weer na die teksgedeelte: wat spring as’t ware vir jou op uit die teks (‘n woord, ‘n frase, ‘n sin, ‘n gedagte) wat vra dat jy weer daarna moet terugkeer en aandag gee daaraan?

* Maak vir ‘n oomblik toe oë toe. Dis donker … wat ervaar jy? Wat beteken dit vir jou dat Jesus gesterf het, en in die graf ingegaan het?

* Wat dink/beleef jy wil die Here deur sy Woord vandag vir jou sê?

* Watter opdrag gee die Here vir jou n.a.v. hierdie ontmoeting met Hom in sy Woord?

* Sit dit wat die Here vir jou gesê het om in ‘n gebed wat jy nou tot God kan bid.

* Sit vir ‘n oomblik net stil in God se teenwoordigheid.

Numeri 6 : 24 – 26
24“Die Here sal julle seën en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Ek heg ‘n skakel na Youtube met die lied Pie Jesu van Andrew Lloyd Webber – as jy kan, luister gerus hierna …

https://youtu.be/K6RSB39DMfM

 

Posted in nuus.