Gemeenskapsdiensprojek onder die Ju’hoan-Boesmans in die Oos-Tsumkwe gebied

Die Boesmans is die oudste inwoners van Afrika. Vandag is slegs enkele van hulle se leefwyse soos die van ‘n 1000 jaar gelede. In Namibië is daar tans nog enkele groepies Boesmans met 'n semi-tradisionele leefwyse, soos o.a. die Ju’hoangroep te Tsumkwe, die Barakwenagroep te Bagani en die Vasikelas te Mangettiduin.  Sowat 2 400 Boesmans woon in die omgewing van Tsumkwe, ‘n klein dorpie in Oos-Boesmanland in Noord-Namibië, noord-oos van Grootfontein naby die Botswanagrens.  Die Tsumkwe bedieningsarea is 13 200 vierkante km groot en bestaan uit die dorp Tsumkwe en 33 habitatte waar die Boesmans in die veld woon.  Tsumkwe self het ongeveer 550 inwoners waarvan 350 Boesmans is.

 Met verbeterde kommunikasie- en vervoermiddels is die Boesmans egter al hoe meer blootgestel aan die Westerse kultuur en lewensstyl.  Met die instroming van ander etniese groepe in die tradisionele Boesmanwoongebied asook herhaalde droogtes, is dit nie meer vir die Boesmans moontlik om soos voorheen van die veld te leef nie. Die veldkosse word toenemend skaarser en wild minder.  Velle van die diere wat tradisioneel gejag is, is gevolglik ook nie meer so geredelik beskikbaar om klere van te maak nie. 

Die Grensoorlog in die destydse SWA het tot gevolg gehad dat ‘n nuwe geslag Boesmans te Tsumkwe opgegroei het sonder om te leer hoe om tradisioneel te jag of van die veld te leef.  Min van die Boesmans in Tsumkwe-omgewing het ‘n permanente werk of inkomste aangesien werk baie skaars is en hulle hoofsaaklik in die veld woon. Armoede en hongersnood is dus ‘n voortdurende probleem wat op beperkte skaal deur die regering aangespreek word.

Gevolglik is daar heelwat staatlike - en niestaatlike projekte in die gebied aan die gang. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Namibië en ook in die Vrystaat is twee instansies wat betrokke is met gemeenskapsopheffingswerk in die gebied. Sake wat aangespreek word is as volg: 

1                    Instandhouding van die Boesman se eie kultuurgoedere.  Die Boesmans word aangemoedig om steeds hul tradisionele items soos klere, musiekinstrumente, jaggereedskap, ornamente ens te maak en te gebruik.  Meeste van hulle woon steeds in tradisionele hutte in die veld en benodig hierdie produkte vir persoonlike oorlewing en om mee handel te dryf. 

2                    Voorsiening in maatskaplike behoeftes.  Die oorskot tradisionele items (of outentieke Boesmancurios) word op ‘n gereelde basis geruil vir voedsel en lewensmiddele soos klere en komberse.  Ten einde ‘n bedelkutuur te verhoed en nasietrots aan te kweek, word relatief min dinge gratis uitgedeel. (Voedsel word van tyd tot wel deur die regering gratis uitgedeel ten einde in hul nood en behoeftes te help voorsien. Dit gaan met verloop van tyd gestaak word.)

3                    Aanleer van lewensvaardighede.  Die Boesmanvroue word in groepsverband geleer om naaldwerk te doen.  ‘n Bakkery is op die been gebring om die gemeenskap van brood te voorsien en opleiding is verskaf om self brood te kan bak. Van die boesmans tree op as veewagter of plaaswerker.

4                    Aanleer van landboukundige vaardighede.  Onder bekwame leiding is daar met ‘n beesboerdery begin.  Die hoofdoel is om vleis teen ‘n bekostigbare prys te verskaf.  Opleiding word ook gegee om mielies en ander graangewasse aan te plant.  Aangesien die Boesmans te Tsumkwe tradisioneel jagters en nie landbouers is nie, staan hierdie projek nog in sy kinderskoene.

5                    Geestelike en emosionele versorging van die Boesmans.  Die Boesmans in die veld word maandeliks besoek en geestelik versorg.  Op Tsumkwe self is ‘n gemeente en word eredienste, bidure en kategese weekliks aangebied.

Ten einde bogenoemde doelwitte te kan bereik, is onder andere die volgende nodig:

i)                    Tussen R 15 000 en R 25 000 se voedsel word maandeliks in die gebied vir curios geruil.  Bemarking en verkoop van die curios is dus van kritieke belang ten einde die volgende maand se kosrekening te kan betaal.  Bemarking van en nuwe afsetgebiede vir die curios, veral in die buiteland, is gevolglik noodsaaklik.  Sien “ Authentic Bushman Curios

ii)                   Finansiële ondersteuning en moontlike aanstelling van ekstra personeel wat lewens- en landboukundige opleiding verskaf.

iii)                 Finansiële ondersteuning van die leraar wat omsien na die emosionele en geestelike versorging van die Boesmans te Tsumkwe-omgewing.

iv)                 Ten opsigte van die sinvolle voortsetting van die beesboerdery is die volgende tans van kritieke belang:

a)      Oprigting van higiëniese slaggeriewe nl. ‘n goedgeventileerde geboutjie met ‘n sement vloer, wasbak met koue water, ‘n hystoestel, metaaltafel om vleis op te bewerk en ‘n vrieskas.

b)      Aankoop van ‘n mobiele melkmasjien sodat higiënies en skoon gemelk kan word. 

c)      Kapitaal moet bymekaar gemaak word om die sowat 40 hektaar wat die beeskamp tans beslaan aan te koop wanneer Tsumkwe as dorpsgebied verklaar word.  Die kamp is reeds opgemeet, val buite die dorpswoongebied en is ook nie in die bewaringsarea (conservancy) vir die Boesmans nie.

Die finansiële bronne van die instansies tans betrokke by die gemeenskapsopheffingswerk in Tsumkwe-omgewing is uiteraard beperk. Dit is dus noodsaaklik om steun vanuit ander instansies te werf ten einde bogenoemde doelwitte te kan bereik en verder uit te bou tot voordeel van die gemeenskap.  Enige persoon of instansie wat betrokke wil wil raak by die gemeenskapsdiensprojek onder die Ju’hoansi gemeenskap te Tsumkwe, kan Jeanet Conradie (+27-(0)51-4366521 of conradj.sci@mail.uovs.ac.za) kontak om verdere besonderhede.