Geskiedenis van die Boesman-sending te Tsumkwe

 

Die Boesmans is die oudste inwoners van Afrika en vandag nog is sommige van hulle se leefwyse soos die van tot 1000 jaar gelede. Die Boesmans se tradisionele godsdiens is ‘n heidense godsdiens waar die natuurverskynsels as elemente van hul godsdiens opgeneem is.  Die Boesmans vrees die son as ‘n verterende mag wat die water, gras, diere en mens verteer (wegbrand) en aanbid die maan.  Die Boesmans het God se algemene openbaring in die natuur gesien, maar op hul eie manier verklaar.  Hulle erken wel dat daar ‘n God is, maar kan nie sonder die Skrif tot die regte verstaan van God in Jesus Christus kom nie.

 

Sedert 1961 word daar sendingwerk onder die Boesmans gedoen.  Die eerste sendeling, ds Ferdie Weich, moes die Boesmantaal aanleer voordat hy 4 jaar later sy eerste preek in Boesman kon lewer.  Verskeie sendelinge het onder die Boesmans te Tsumkwe gewerk tot ongeveer 1970 met die uitbreek van die Angolese oorlog.  Die dienspligkapelane het toe die werk einde 1989 oorgeneem.  Tydens die oorlog het die Boesmans verleer om te jag agv die beskikbaarheid van R1-gewere. Geld en daarmee saam prostitusie en dronkenskap was volop.

 

Heuwelkruingemeente se betrokkenheid by Tsumkwe het begin in 1991 toe die OVS sinode ‘n pos te Tsumkwe goedgekeur het en ds Peet Poggenpoel daarheen beroep is.  Hy het na 6 jaar ‘n beroep Otjiwarongo aanvaar en die pos is deur die OVS sinode bevries.  Huidig is ds Hendrik van Zyl en sy vrou Elize daar en dra die OVS sinode slegs ‘n derde by tot die leraarspos daar.  Die res word deur ondersteunings gemeentes gedra.  Oor ds Hendrik kan ek net getuig dat ek daarvan oortuig is dat die Here self hom spesiaal uitgesoek het vir Tsumkwe. Vandag is die gemeente te Tsumkwe multikultureel met Boesmans, Damaras, Kavangos en Hereros.

 

Ons taak is om Tsumkwe gemeente te help groei tot volwassenheid sodat hulle hul eie leraar kan onderhou.  Hier verwys ek na projekte soos byvoorbeeld die beesboerdery, die bakkery en die curiohandel wat intussen tot stand gekom het.  Veral die curiohandel is belangrik omdat dit iets binne die Boesmans se eie kultuur is. Sien Outentieke Boesman curios

 

Indien die Here u lei om ook betrokke by Tsumkwe te raak,  sien Gemeenskapsdiensprojek onder die Ju’hoan-Boesmans in die Oos-Tsumkwe gebied.  Die belangrikste is egter dat u vir hierdie mense bid en by name vir ds Hendrik van Zyl en sy vrou Elize.