By die ouer Boesmans is daar
onduidelikheid oor waar hulle godsbeskouing vandaan kom. Wanneer hulle met
hulle kinders of die jonger geslag daaroor praat, word daar gelag en gespot,
maar tog volg die kinders dieselfde beskouing.
Hulle praat van twee gode genaamd X!u en !Gawa – ‘n goeie god en ‘n slegte god vir wie ons satan sou noem. X!u, die goeie god, is die een wat ver weg, iewers daarbo, bly en baie min met die mens te doen het. Goeie, sagte reëns is byvoorbeeld een van sy verantwoordelikhede.
!Gawa, die slegte god of
satan, laat dit met die mens meestal sleg gaan. Siektes, droogtes, hongersnood,
oorstromings, donderstorms en dood is te wyte aan hierdie god wat naby die mens
rondbeweeg en leef. Hy het daarom, volgens hulle siening, die meeste bemoeienis
met die mens.
Met die verkondiging van die
Evangelie is dit verstaanbaar dat die Boesmans maklik kan identifiseer met die
God van die sendeling. Die tolk gebruik immers dieselfde woord vir die lewende
God as wat hy vir hul goeie god gebruik: X!u. Daarom kan hulle maklik sê dat
hulle glo. Die deurbraak moes kom dat die tolk Jesus Christus onderskei van X!u sodat daar ‘n begrip kan
ontwikkel van die verskil tussen hulle monote-istiese god en die Drie-enige God
van die Bybel.
Daar moet dus voorbidding
gedoen word vir die tolk om God reg te vertaal en vir die mense om die
onderskeid te maak tussen hul god en die Lewende God en om ‘n keuse te maak vir
die regte God en sy Seun, Jesus Christus.