Ampsbediening Print E-mail
LIDMATEVERGADERING : AMPSBEDIENING

Ampsbediening het ten doel om die gemeente na binne toe te bedien. Die taak veral om leiding te gee ten opsigte van die toerusting, versorging en bediening van die verskillende ampte wat insluit dié van die leraars, ouderlinge en diakens.

Aksies ten opsigte van gawebediening, manne- en vrouebediening, webblad, kampe, Bybelstudies, wyksbyeenkomste en lidmaatverskuiwings na en van ander gemeentes en ander kerke, word hanteer.

‘n Omgeebediening vind d.m.v. kleingroepe plaas. So bestaan daar spesialiteitsgroepe vir vroue, manne, nie-werkende persone en alleenlopende dames. Die eerste omgeegroepie vir gesinne met klein kindertjies is in die gemeente begin.

Die vroueaksie insette word ook vanaf dié vergadering gefinansier en ondersteun. Suksesvolle vrouekampe, nageregverkope, basaaraksies, bybelstudies, biddae vir vroue, blommerangskikkings en ander geestelike en fondsinsamelingsveldtogte word op ‘n deurlopende basis suksesvol tot eer van ons Hemelse Vader geloods. Die vroue bly steeds die ruggraat van die gemeente!

Gereelde kursusse word vir kerkraadslede en hulle gades gereël wat baie bygedra het om kerkraadslede toe te rus om hulle ampte met vertoue te kan vervul.

Die gawebankinligting sal ook voortaan meer gebruik word. Lidmate wat gekontak word vir hulp met gemeente-werksaamhede soos hulle aangedui het op hulle gawebankvorms, reageer baie positief. Dit bly altyd ‘n voorreg om uit dankbaarheid die Here te loof en sy Koninkryk te bevorder met die gawes wat Hy aan ons gegee het. Indien daar lidmate is wat nog nie gawelyste voltooi het nie, Kan hulle net hul onderskeie ouderlinge of diakens kontak, of ‘n vorm by die kerkkantoor kom afhaal.

Alle lidmate word weer eens uitgenooi om te deel in die werksaamhede van die lidmatevergadering van ampsbediening. Enige inisiatiewe wat u meen die taak van die ampsbediening kan vbevorder, kan aan die kerkkantoor, of myself, deurgegee word. Hierdie insette sal hoogs waardeer word.
En as u dalk dink u is te klein om ‘n verskil te maak, God het ook die muskiet geskape. Het u al gesien hoe groot verskil ‘n muskiet aan iemand so groot soos u kan maak as julle twee saam in die slaapkamer toegemaak is? Laat ‘n mens dink, nê?

Voorsitter: Jacques Olivier

 

Newsflash