|
Jesaja 61:1-4, 8-11 ~ Jesus se intreepreek verklaar sy bediening van hoop en bevryding aan almal, veral vir die armes!
11 Desember 2011 ~ Derde Sondag in Advent
Verder Geluister: Jesaja 61:1-4, 8-11 ~ Jesus se intreepreek verklaar sy bediening van hoop en bevryding aan almal, veral vir die armes!
Jesaja 61:1-4, 8-11 ~ Jesus se intreepreek verklaar sy bediening van hoop en bevryding aan almal, veral vir die armes. Jesus se roeping is duidelik. Volgens Lukas is Jesus geroep om die armes te bedien en die goeie nuus aan noodlydendes te bring – sy missie laat sommige mense ongemaklik voel. Jesus is nie net besorg met mense se geestelike behoeftes nie, maar die liggaamlike nood van mense het Hom diep geraak. Daar was sommer baie mense wat swaar gekry het. Die samelewing waarin Jesus geleef het, het hoofsaaklik uit arm mense bestaan. Ons het vandag in Suid-Afrika ‘n middelklas, destyds was daar blykbaar nie een nie. Die oorgrote meerderheid van die mense was brandarm, jy kan hulle bedel-armes noem. Kenners reken dat die rykes destyds 2% van die bevolking uitgemaak het, maar hulle het meer as die helfte van die rykdom in hulle hande gehad. Die gaping tussen ryk en arm was baie groot. Dit klink vir my dit was selfs groter as die gaping tussen ryk en arm wat ons tans in ons land ervaar. En dis van die grootste in die wêreld. Eers was die meeste Jode plattelandse kleinboere wat die land gemeenskaplik besit het. Die Romeine het die land verower en ‘n nuwe beleid gevolg. Groot plase is gevestig, wat die kleinboere gedwing het om op die plase te gaan werk. Hulle het handlangers wat ‘n dagloon gekry het, geword. Die geld kon skaars ‘n klein gesin van brood voorsien. As ‘n handlanger vir ’n paar dae nie werk kon vind nie, was sy gesin sonder kos. Dit is daarom nie vreemd dat die evangelis Lukas so baie te sê het van Jesus se deernis vir armes nie. Op ‘n sabbatdag in Nasaret preek ‘n jongman wat in die onderdorp groot geword het, in die sinagoge aan hoorders wat armoede ken. Hy neem die Bybel van sy tyd en lees uit die boek Jesaja. Dis Jesus die dorpseun aan die woord, hy lees uit die eerste verse van hoofstuk 61 en voeg die vers “om onderdruktes in vryheid weg te stuur” uit hoofstuk 58 by. Die verse wat Jesus lees was profetiese woorde aan die arm en ellendige Jode in Jesaja se tyd. Die mense moes in daardie tyd ter wille van geld hulle huise en wingerde verpand, soms moes hul kinders as slawe aan rykes gee. Menslik gesproke was daar nie hoop vir uitkoms uit die skuld en armoede nie. God wil hulle egter verseker dat Hy hulle nie vergeet het nie. Die profeet beloof ’n totale ommekeer in hulle haglike omstandighede, God sal tot hulle hulp kom deurdat Hy sy ”genadejaar” sal laat aanbreek.. Jesus se bevrydende boodskap is hierop gegrond. Die goeie nuus is vir die armes. Die armes is die noodlydendes, die swakkes, veragtes en verstotenes. Die gevangenes is die slagoffers van verdrukking, vasgevang in ‘n sisteem wat mens aan apartheid laat dink. (Natuurlik is daar ook gevangenes van armoede deur hul eie toedoen. Ook in sulke gevalle is God hul God van genade.) Hulle sal vrygelaat word. Die blindes, diegene wat geen lig sien nie, sal lig sien, die lig wat met die koms van die Verlosser in vervulling gaan. Die onderdruktes is die slagoffers van geweld, die gekneusdes en die gebrokenes, hulle sal van hulle verdrukkers bevry word. Die armes destyds en die armes vandag is meestal slagoffers van onreg. Maar ook hulle bly sondaarmense. Die oplossing lê in die genadejaar van die Here; die aanbreek van genade en die beëindiging van ellende – ’n nuwe bedeling. Nadat Jesus uit die boek Jesaja gelees het, lê hy die gedeelte met die woorde uit: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het vervul”. Dit is in Jesus met die krag van die Gees vervul. Lukas lê klem op die werking van die Heilige Gees en sê dat met Jesus se koms die mag en reg van God in die wêreld weer sigbaar is. Waar Jesus kom en waar sy Woord gehoor word, breek die lig deur, daar breek geregtigheid deur. Sy bevrydende boodskap word met verbasing ontvang, maar tog verwerp. Jesus het nie Jesaja 61 vers 2 gelees nie. Jesus die bevryder, laat die wraakgedagtes uit. En toe Hy beweer dat nie-Jode groter ruimte vir God se genade het, was dit net een te veel vir die godsdiensleiers van die Jode, hulle wat hulself beter as die armes geag het, hulle wat gedink het die genade is net vir hulle bedoel en nie vir die armes en eenvoudiges nie. Dat God reg aan almal laat geskied, het hul woedend gemaak. Jesus se boodskap beteken ’n totale ommeswaai, ’n ander manier om na die wêreld te kyk. Hiervoor het hulle nie kans gesien nie. Jesus se goeie nuus aan die armes, die evangelie van bevryding word verwerp, omdat hulle dit nie kon aanvaar nie. Die eerste (ou) en tweede (nuwe) Testament getuig van God se ontferming oor die minder bevoorregtes, randfigure en uitgeworpenes van die samelewing. As ons dit miskyk, mis ons God se genade en die doel waarvoor God Jesus na die aarde gestuur het. En die onderdrukkers dan, die mense wat op die geringstes neersien en hulle uitbuit, is God se genade ook vir hulle bedoel? Natuurlik is die genadejaar ook vir hulle bedoel, maar dan moet hulle tot bekering kom, reg laat geskied, self soos armes word wat weet dat hulle alleen maar van God se genade afhanklik is. Gelowiges word geroep om te staan waar God staan: Omdat Hy die bron van reg is, staan Hy in situasies van onreg by die verontregtes. Dis hoe God in sy grootheid besing word (Ps 146); en dis hoe Jesus sy roeping uitstippel. As navolgers van Jesus, as mense in diens van God (Rom 6:13), is die kerk, hierdie gemeente, word ek en jy geroep om die genadejaar - die hersteljaar - te help waarmaak (vergelyk Belydenis van Belhar). Hierdie magbeheptes en rykes wat deur Jesus se boodskap aangegryp word, toon dan genade teenoor armes en steek ‘n hand van deernis en geregtigheid na hulle uit. Jesus se evangelie bring ‘n boodskap van hoop en bevryding aan almal. In Lukas is dit ‘n boodskap van hoop, veral vir die armes, die noodlydendes.
|