| Meditasie 1 Kor 7 |
|
|
|
1KORINTIëRS 7 Paulus relativeer alles in die lig van die eskatologie: "Van nou af (Gr. to loipon) moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie…" (v 29-31). Die Here wat gou terugkom sit ‘n gelowige in beweging en hou die gelowige aan die beweeg. Soos wat ’n 4x4-voertuig soms vasval tot op die onderstel en die voertuig bewegingloos laat, so het die filosofie wat in die Korinte-gemeente in die omloop was, die gemeente verlam. Die filosofie het aanleiding gegee daartoe dat sommige gemeentelede skriftelike navraag by Paulus gedoen het. Daar is mense wat sê jy moet nie trou nie, die huwelik is ’n tronk. Die huwelik lê jou aan bande soos wat jou liggaam jou aan bande lê. Jy is veronderstel om die vryheid wat Christus gebring het, te beleef. Net so moet jy jou ook nie verbind aan hierdie wêreld nie. Wie in die wêreld opgaan, word ’n gevangene van die wêreld wat jou jou vryheid ontneem. Paulus antwoord hierop: Dit is nie verkeerd om te trou nie. Daar is egter ’n ander dringendheid wat daartoe lei dat mense nie nou groot skuiwe in die lewe moet maak nie. Hou dinge soos wat dit is (verse 17, 24, 26, 29vv). Die woorde van Paulus kan mense wel daartoe verlei, en dit het inderdaad ook by sommige gemeentes gebeur, om net te sit en wag vir die Here se koms; bewegingloos te sit, niks te doen nie en net te wag. Paulus het egter geen passiewe wag in gedagte nie. Sy motivering om byvoorbeeld te wag met trou, is nie asketies bedoel nie, maar is eskatologies van aard. Die Here se koms is voor die deur. Trouens, die tyd is selfs verkort. Daarom moet hulle dinge eerder hou soos dit is, en gereedmaak vir sy koms. Deur nou te trou, kan jou aandag van God weggeneem word. Die huwelik bring sy eie verantwoordelikhede mee wat jou daarin opneem. Wat vir die huwelik geld, geld ook vir ander aktiwiteite. So lees vers 29: "Van nou af moet die wat getroud is… wat bedroef is…, die wat nou op ’n koopmanie is…." Die tyd is kort en sy koms bring mense voor ’n geweldige krisis te staan. Hulle kom te staan voor die verheerlikte Here. Die uur van God se finale beslissing (Gr. ho kairos) is voor die deur. Daarom is die tyd waarin die gemeente leef ’n krisistyd, wat skerp beslissings van gelowiges vra. Ons kan die tyd vergelyk met ’n pasiënt wat so pas van die dokter verneem het dat hy of sy aan ’n ongeneeslike siekte ly, en hoogstens vier weke oor het om te leef. Die dood oor vier weke, bring ’n stuk finaliteit mee, maar ook ’n tyd van besluite… beslissingstyd. Is my testament in orde? Hoe lyk my banksake? Wat gaan van dié word wat agterbly? Hoe lyk my verhoudinge? ‘n Mens kan nie in onvrede sterf nie. Sake moet afgehandel word. So plaas hierdie terugkerende Here ons ook voor beslissings. Hoe moet my huwelik dan lyk dat ek nie so opgaan in die huwelik, sodat ek nie gereed sal wees vir die Here nie? My huwelik mag nie so op my beslag lê dat dit nie ruimte laat vir God se werkinge in my lewe nie. Ek kan en mag nie die huwelik verafgod nie. Ek kan nie net leef vir my huwelik nie. Hier kan ’n mens voorbeelde soek waar die huwelik die belangrikste saak vir mense raak. Onlangs het ’n nuwe intrekker as rede gegee waarom hulle uit die besige Gauteng verhuis het, omdat hulle meer tyd in die huwelik vir mekaar wil maak. Hulle wil nêrens dien of betrokke raak nie. Die huwelik is hul hoogste prioriteit. Net so kan ek nie leef vir hierdie wêreld nie. Die ekonomie van hierdie wêreld mag my nie besit nie. Hier kan ek nie met my geld hemel en aarde versit nie. Die wêreld, soos ons dit ken, gaan geheel en al anders lyk. Die wêreld word in sy gebroke staat ervaar en gaan ’n metamorfose ondergaan. Die wêreld, soos ons dit nou ken, gaan verby. Om al jou tyd, geld en energie in ’n verbygaande wêreld te belê, maak dit ’n baie swak belegging. Jesus het mos gesê dat hier is diefstal, mot en roes aan die orde van die dag. Moet nou nie uit die wêreld ontvlug nie. Die toekomsverwagting (eskatologie) moet die wêreld ’n ander gesig gee. Vryheid bly hier ook maar net ’n droom. Daarom is die fanatiese soeke na vry wees nie hier te behaal nie. Die Here wat terugkeer, maak jou alleen waarlik vry. Hierdie wag waarvan Paulus praat, is dus ’n aktiewe wag. ’n Mens kan dit vergelyk met die bruid wat haar op haar troudag gereed maak om in die kerk in die huwelik bevestig te word. Tot op die laaste oomblik maak sy haarself nog gereed. In die voorportaal word die rok nog vir oulaas reg getrek, die sluier afgerond voordat sy instap. Sy voel sy moes dalk dit of dat nog gedoen het. Sy vind nou uit dat hier iets is wat nog nie op sy plek is nie, daar skort ook iets. Sy sou dit nou anders wou hê. Niks is regtig heeltemal afgerond nie, elke ding het sy gebreke. So vind die gelowige dat die koms van die Here jou by die plek bring waar ‘n mens besef alles is onvoltooid, onafgerond, voorlopig en vol gebreke. Dit is hierdie wete wat die gelowige in beweging sit, om uit sy of haar bewegingloosheid te kom, uit jou gemaksones en uit jou passiwiteit, want die Here kom! Dit is beslissingstyd …die Here se koms is hier. So trek die koms jou lewe na die finale ontmoeting met die Here van passiewe, na aktiewe wag. |

