Ons groet ons oudste lidmaat – Heilie Strydom

Ons groet vandag Heuwelkruin-gemeente se oudste lidmaat, Heilie Strydom (10 Augustus 1918 tot 7 Julie 2019) in die ouderdom van 99 jaar en 11 maande.  Sy was ’n geliefde moeder, ’n beminde inwoner van Aliquando, en ’n matriarg van die De Klerk-familie.

Haar lewe was gevestig op stewige Christelike beginsels en gebalanseerde lewenswaardes.

Heilie Strydom het verskillende rolle in verskillende mense se lewens gespeel maar oral is sy vereer, want sy was ’n ware dame na wie mense haar lewe lank opgesien het.

Oor minder as ’n maand sou sy ’n honderd jaar oud geword het. Met haar heengaan het ’n hele geslag tot sy einde gekom.

Sy was die jongste van agt kinders. Met haar heerlike sin vir humor het sy nie te lank gelede nie vir een van haar dogters gesê: “Ek wonder wat sou my ma-hulle gesê het as hulle moet weet dat hulle laatlammetjie vandag al amper honderd jaar oud is!”

Ook het sy ’n ongelooflike geheue gehad. Tot heel onlangs nog het sy die name van die Bybelboeke in korrekte volgorde opgesê, ook die volgorde waarin die Rigters opgetree het, asook die plekke wat Paulus op sy sendingreise besoek het.

Sy kon jou alles van die De Klerk-familie en die vroeë geskiedenis van Theunissen, waar sy grootgeword het, vertel. Daar was sy sekretaresse van die OVV en het sy ook haar gewig by die VLU ingegooi.

Van haar mooiste eienskappe was die ondersteunende rol wat sy in die gemeenskap en die kerklike lewe gespeel het toe sy nog kon, maar veral in die lewens van haar oorlede man in sy onderwysloopbaan, en in die lewens van haar twee dogters, en ook in wyer familieverband.

By die familie het sy die mooi lieflingsnaam van Ouma Heilie gehad. So het almal haar met liefde en bewondering genoem. Ouma Heilie se plek is nou leeg.

Ons almal dank ons Skepper vir Ouma Heilie, wat vir elkeen van ons op haar eie manier iets beteken het.

Ons eer haar nagedagtenis

Posted in nuus.