WAP kalender
http://www.ngheuwelkruin.org.za/webkal/m.wml
Hierdie jaar se kerkalmanak is nou op die web beskikbaar om met selfone of ander “mobile devices” maklik gebruik te kan word. Die maklikste is om ’n boekmerk/gunsteling op u foon te stoor en wanneer u dan ook al iets wil weet wat op die kerkalmanak staan, en u nie ’n almanak byderhand het nie, kan u in ’n oogwink u foon gebruik om die inligting te kry. En dis goedkoop: as u in een sessie na die detail-inligting van elke dag van die jaar kyk, behoort dit minder as 60c te kos! Vir ’n normale sessie behoort dit dus slegs sowat 3c of 4c te wees. (Hierdie kostes word deur u diensverskaffer verhaal en is slegs vir die gebruik van hulle GPRS/EDGE/3G/HSDPA fasiliteite.)
Die WAP-kalender is spesiaal so ontwerp om op so groot as moontlik verskeidenheid selfone te werk, selfs sekere ouer modelle ook. Dit is egter onwaarskynlik dat dit met u gewone internet “browser” op u rekenaar sal werk.
Instellings / “Settings”
Dit is nodig om eers seker te maak dat u selfoon wel opgestel is om webbladsye te kan laai. Die maklikste manier is om bloot die webfasiliteite vanaf u foon te probeer gebruik, en indien dit nie werk nie, dan die “settings” te probeer instel.
Vir die volgende selfoonnetwerke kan u ooreenkomstige kodes vanaf u foon probeer bel:
| Vodacom: |
*111# |
| MTN: |
*123# |
Kyk vir “phone settings” of “phone setup” en daarna vir iets soos “WAP” of “GPRS”. Indien u steeds nie regkom nie, of ’n ander selfoonnetwerk gebruik, sal u ongelukkig self met die betrokke diensverskaffer moet kontak om raad te kry oor hoe om dit in te stel.
Stap-vir-stap
Hoe om by die almanak uit te kom:
- Soek vir ’n “icon” of prentjie in u foon se “menu” wat soos ’n aardbol lyk en gaan daarby in.
- Daar behoort hier iewers ’n opsie te wees wat iets sê van “bookmarks” of “favourites”; gaan daarby in.
- Kyk vir ’n opsie, moontlik in nog ’n “submenu”, om ’n boekmerk by te voeg en kies dit.
- U behoort nou gevra te word om ’n adres of URL in te sleutel en daarna ’n naam vir die boekmerk toe te ken, of andersom. By die adres kan u http://www.ngheuwelkruin.org.za/webkal/m.wml presies net so intik (die http:// of so mag dalk reeds daar staan). By die naam kan u ’n naam intik waaraan u maklik sal weet waarvoor daardie boekmerk is, bv. “Kerkalmanak”. Stoor die boekmerk.
- Wanneer u die almanak wil gebruik, herhaal stap 1 en 2 en selekteer die almanak-boekmerk. Druk nou die “Accept / Select / OK / ...” tipe knoppie op u foon. U foon se webblaaier behoort nou oop te maak en na die kerkalmanak te gaan.
Hoe om die almanak te gebruik:
- Wanneer ’n maand se datums vertoon word, kan u met die pyltjie-knoppies op u foon tussen dae rondbeweeg. Wanneer ’n sekere dag, bv. 25 in die maand Januarie geselekteer is, kan u bloot daarop “kliek” (met kliek word hier en voortaan bedoel die “Accept / Select / OK / ...” tipe knoppie druk).
- Die inligting van daardie dag sal dan gelaai en vertoon word. Onderaan elke dag-inskrywing word twee reëls vertoon: die eerste begin met twee skerphakies na links <<, dan staan daar “Dae”, en dit eindig met twee skerphakies na regs >>. Om direk na die vorige dag te beweeg, kan u op die << kliek. Soortgelyk, om direk na die volgende dag aan te beweeg, kliek op die >>.
- Strenggesproke kan u op hierdie manier by enige dag van die jaar uitkom, maar dit mag dalk ’n tydjie neem as die die dag waarna u soek lank na die dag is waarby u tans is. U kan eerder af beweeg en op “Vertoon maand” kliek.
- By die skerm wat die hele maand se dae vertoon, is daar onderaan, net soos by die dag-inskrywings, pyltjies na links (i.v.t.) en pyltjies na regs (i.v.t.) waarmee u tussen maande kan rondbeweeg.
- Heel onderaan die maand-skerms kan u op “Algemene inligting” kliek. Hier kan u onder andere die kontaknommers van die kerkkantoor en predikante vind, asook alle ander algemene en belangrike inligting wat op die gedrukte kerkalmanak voorkom.
Hierdie algemene inligting is in 4 bladsye verdeel. Onderaan elke bladsy is daar skakels waarop u kan kliek om na die volgende algemene inligting-bladsy te gaan. Indien u bv. op “Deel 3/4” kliek, sal die derde van vier bladsye vertoon word. Heel onderaan is weer ’n skakel om u terug te neem na die maand-skerm.