1 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Dis ‘n vreemde werklikheid wanneer jy in die middel van ‘n pandemie is, in isolasie in jou huis sit, en boodskappe begin kry van bekendes wat positief getoets het vir Covid-19, of wie se famlie positief getoets is, of self van gemeentelede wat gekontak is omdat hulle in kontak was met iemand wat positief getoets is. Dis een ding as die moeilikheid op die TV is, of ‘n statistiek op jou foon. Dis ‘n ander ding as hy in jou huis begin inkom.

Ek kry gisteraand die prentjie van ‘n brander wat na my toe aangerol kom en ek probeer dit met oop arms keer – wetend ek gaan hom nie keer nie. Dis wanneer hierdie storms van die lewe om ons losbars en dreig om oor ons te spoel dat ons soek na ankers en sekerhede. Maar dit is ook wanneer ons daaraan herinner word dat ons in geloof daaraan kan vashou dat die God wie ons bely, nie net groter as die storms is nie, maar ook in die storms by ons en weer vrede bring.

Ek lees Matteus 8 : 23 – 26:
3 Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. 24 Skielik het daar ‘n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap.
25 Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!”
26 Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”
Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. 27 Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”

Mag jy die storms om jou in perspektief sien. Mag jy Jesus saam met jou in die storm beleef. Mag die storms om jou heen én in jou hart, stil word. Mag die vrede van Jesus wat alle verstand te bowe gaan jou vandag koester.

Wees kalm. Wees veilig. Vertrou in God

Posted in nuus.