10 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Lees gerus eers Ps 88.

Verlede naweek kom Psalm 88 oor my pad. ‘n Psalm wat ek nog nooit werklik in diepte gelees het nie, maar wát ‘n aangrypende Psalm! Psalm 88 is ‘n klagpsalm, maar waar ander klagpsalms na die klag darem oorgaan in een of ander vorm van geloofsbelydenis of lofuiting, is Psalm 88 net klag. Die Ou Testamentiese teoloog, Walter Brueggemann, skryf in sy boek The Message of the Psalms:
“Psalm 88 is an embarrasment to conventional faith. It is the cry of a believer whose life has gone awry, who desperately seeks contact with Yahweh (God), but who is unable to evoke a response from God. This is indeed “the dark night of the soul”, when the troubled person must be and must stay in the darkness of abandonment, utterly alone”.

Vir baie mense is hierdie die harde realiteit van hulle lewens: om hulle selfs van God verlate te beleef. En ja, ons kan maklik redeneer dat God ons tog nooit alleen sal laat nie, en dat ons tog nooit verlore of verlate is nie – dít is verseker so! Maar tog beleef mense dit soms anders. Tog beleef ons soms dat my emosie van Godverlatenheid sterker is as my wete dat God my nie sal verlaat nie. Ons weet dat God altyd sal antwoord, en altyd sal uithelp, maar in Psalm 88 beleef die skrywer die nog nie, die nie nou al nie …

Weer Brueggemann: “The truth of this psalm is that Israel lives in a world where there is no answer.” Dit is ons belewenis van ons wêreld van vandag ook maar – ons het meer vrae as potensiële antwoorde. En ons kan baie redes aanvoer vir God se stilte: ons skuld, of miskien is dit maar net God se soewereine keuse? Psalm 88 verval nie in maklike antwoorde of spekulasies nie. Dit verwoord gewoon die harde realiteit van iemand wat voel dat God hom verlaat het.

Maar, en dít leer Psalm 88 my: die spreker word nie stilgemaak deur God se stilte nie. Hoor wat sê Brueggemann hieroor: “Perhaps the speaker is in fact speaking to the empty sky, but that does not deter the speaker. The faith of Israel is like that. The failure of God to respond does not lead to atheism or doubt in God, or rejection of God. It leads to more intense adress.”

Die skywer van Psalm 88 is in sy geloof vas oortuig dat (ten spyte van God se stilte en skynbare afwesigheid) God steeds daar is, en steeds mee gepraat moet word. Daar móét met God gepraat word, selfs al antwoord Hy nooit nie.

Dít is die geloof wat Psalm 88 vir ons wys: nie die geloof gebaseer op God se reaksie of goeie antwoorde op my pleidooie nie, maar die ware geloof in God, in wie Hy is, en dat Hy is, en dat Hy ongeag van my gevoel of ervaring, steeds die ewige, almagtige, soewereine God is.

En daarom praat ek. Daarom praat ek soms harder, praat ek meer intens, want God ís daar, Hy regeer steeds. Hy is steeds God. Daarom glo ek: nie omdat God doen nie, maar omdat Hy God is.

Glo …

Veilig wees

Ds Mauritz

Posted in nuus.