11 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Lucas Maree sing in die liedjie Jerigo se Mure: “Jerigo se mure was van klip gemaak … maar kyk wat het musiek daarmee gemaak?” En dit ís so. Die regte musiek op die regte oomblik het die vermoë om mens hartsnare te roer soos min ander dinge. Navorsing het getoon dat wanneer mense teneergedruk voel of deur moeilike tye gaan, musiek van die gewildste en beste terapie kan wees.

Maar soms kan dit ook moeilik wees om die regte lied te kry, of om hoegenaamd lus te wees vir saamsing. Soms wil ek eerder klaagliedere sing. Soms wil ek glad nie sing nie en net mor oor my situasie en frustrasies.

Paulus en Silas sit in die tronk in Filippi, met hulle voete vasgeboei en die seldeure gesluit. Hand 16 : 23 – 26:
“²³Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. ²⁴Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. ²⁵Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. ²⁶Skielik kom daar ‘n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.”

Paulus en Silas sing! In die tronk, na ‘n pak slae, met hulle voete in ‘n houtblok vasgeklem, maar hulle síng! En nie klaagliedere nie; tot eer van God!

As Ps. 137 : 4 vra: “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?”, dan antwoord die kerk: maklik! Want ons sing uit geloof. Ons sing van geloof. Ons sing met geloof. Ons sing oor God se trou, sy liefde, sy krag, sy troos, sy bemoediging, sy verlossing, sy genade, sy versorging, sy … ons sing, want ons sing tot sy eer!

Wat sing ek vandag? Klaagliedere? Of lofliedere?

“Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer, …”

Mooi dag vir jou.

Ds Mauritz

Posted in nuus.