12 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Op my foon het ek ‘n prentjie wat ek al ‘n hele ruk gelede êrens afgelaai het. Die woorde daarop het my nog altyd aangetrek: ”I am strong, but I am tired.” Ek het al baie so gevoel, en ek vermoed jy ook. Ons oorleef, ons gaan aan, ons glimlag, ons werk … maar ons is moeg. Soms tot op die been toe moeg.

Daar is baie dinge wat ons moeg maak: harde werk, werksdruk, verwagtinge van mense, gespanne verhoudinge, bekommernisse, onsekerheid oor die toekoms, so kan ons aangaan. As jy soms mooi na mense kyk, kan jy die moegheid op hulle gesigte afgeëts sien. Jy kan sien ons wêreld en sy mense is moeg.

In Jesus se tyd het Hy waarskynlik ook iets hiervan by die mense aangevoel. Hulle het swaargekry onder die oorheersing van die Romeine wat die lewe vir hulle ondraaglik gemaak het. Maar Jesus het ook opgelet dat die volk swaarkry onder die las van skuld en veroordeling wat die Joodse leiers, die Fariseërs en die wetgeleerdes, op hulle gelê het. ‘n Mens kry amper die ervaring dat hulle die vreugde en vryheid van om God te ken en dien van die mense weggevat het. Selfs godsdiens het ‘n las geword van ‘n klomp moets en moenies en jy moes net heeltyd in jou spore trap!

Jesus ervaar waarskynlik die volk as moeg. Daarom dat Hy vir hulle sê, Matteus 11 : 28 – 30:
²⁸“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. ²⁹Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. ³⁰My juk is sag en my las is lig.”

Ons herken dadelik die woorde “uitgeput en oorlaai”. Die Griekse woord wat hier met “oorlaai” vertaal is, beteken presies dít: om te veel laste op jou te hê; om te swaar te dra. Dis mos maar hoe ons ook soms voel … Maar dan moet ons ook raaksien die uitnodiging: “Kom” – dis ‘n bevelsvorm wat sê: “Kom hier!”. Jesus wil hê ek moet na Hom toe kom met my laste wat te veel is vir my; Hy wil my by Hom hê as ek moeg is. Hoekom? “Ek sal julle rus gee.” Die Griekse woord hier beteken “repose”, om tot rus te kom, om verfris te word, om te herstel.

Vir God was hierdie rus en herstel nog altyd belangrik, daarom het Hy van die begin van die skepping af vir ons ‘n rusdag gegee. Maar Jesus nooi ons uit tot ‘n dieper rus; tot ‘n rus in sy teenwoordigheid; tot ‘n ontdekking van vrede te midde van die storms; tot herstel van menswees vanweë my leef in sy teenwoordigheid. Want Jesus is anders as die Joodse leiers van sy tyd. Hy wil nie belas nie, Hy wil laste afgooi; Hy wil kom vry maak. Hy wil hê dat ek en jy by Hom moet kom rus.

“I am strong, but I am tired”, maar by Jesus herstel ek, word ek verfris. So kom ek en jy gaan soek en vind hierdie rus wat Jesus beloof. Kom ons leef vandag bewustelik in sy teenwoordigheid wat rus en vrede bring. Kom ons help die wêreld om die ware rus te ontdek wat ‘n intieme verhouding met Jesus bring.

Mooi dag in Jesus se teenwoordigheid

Ds Mauritz

Posted in nuus.