12 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Ek wonder wat is ‘n mens werd? As jy luister na die ekonome se verduideliking oor met hoevele miljarde Rande ons ekonomie skade lei, en as ons dit vergelyk met die aantal sterftes sover a.g.v. Covid-19, dan lyk die bedrae per sterfte buitensporig en glad nie die inperkingsmaatreëls werd nie.

Maar aan die anderkant, as ek vir my ma die keuse kon gee: wat sou sy nie betaal het om my pa vir net ‘n kort tydjie weer by haar te hê nie. Tydens my studentedae het ‘n dosent na ‘n persoon wat a.g.v. beroerte in ‘n koma was, daardie persoon met die woorde: “alien dignity” – ‘n vreemde waardigheid – beskryf. Want sien: ‘n mens se waarde is nie geleë in sy produktiwiteit nie, selfs nie in die waarde wat ek aan ‘n indiwidu heg nie, maar in dit wat God oor ‘n mens dink.

In Psalm 8 vra Dawid:
⁴As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
⁵wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
⁶U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
⁷U laat hom heers oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
⁸skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
⁹die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.

Ons as mens het aansien en eer; ons het ‘n taak en funksie; ons het ‘n plek in hierdie skepping – elkeen van ons.

Psalm 8 se omskrywing van die waarde van die mens staan egter omarm deur verse 2 en 10 wat albei lees: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!”. In vergelyking met God en sy Naam is ek tog niks werd nie, nie eens ‘n gedagte nie. En tog, hierdie onmeetlike groot God dink aan my. Hoewel ek gemeet teen God niks werd is nie, is ek gemeet deur God waardevol/kosbaar.

Wat is die mens werd? Die evanglies skree net een woord om God se gevoel teenoor my te beskryf: LIEFDE! ‘n Oneindige, alles verterende liefde wat God tot by die punt gebring het waar Hy sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom gegee het om in my plek te te sterf. Vir God is ek meer werd as om in my verlorenheid voort te ploeter. Ek is die fokus van sy genade en heil.

Dalk moet ek anders begin dink en voel oor God se mense …

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.