13 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Tydens ‘n donderstorm het ‘n ma haar bang dogtertjie probeer troos met die woorde: “Moenie bang wees nie, Liewe Jesus is by jou.” Waarop die dogtertjie geantwoord het: “Maar ek soek nou iemand met ‘n vel om by my!” Ons voel dalk in hierdie tyd ook so; ‘n God “met ‘n vel om” sou nogal nice gewees het. Want dit kan nogal voel of God soms verder is as wat ek sou wou hê.

In Matteus 1 : 23 word Jesus aan die wêreld bekend gestel met: “ … en hulle sal Hom Immanuel noem”. Immanuel wat natuurlik beteken “God by ons”. In reaksie op Jesus se menswording het die Switserse teoloog Karl Barth gesê: “God het gebly wat Hy was, naamlik God, en geword wat Hy nie was nie, naamlik mens.” Daarmee het Barth iets probeer verwoord van die feit dat God in Jesus volledig God is én volledig mens geword het. En dít moet ons altyd oor God onthou: Hy is die gans andere, die ewige, die soewereine God. Maar God het ook ‘n vel om gekry – in Jesus het Hy mens geword en kom deel vorm van ons menslike aardse bestaan.

Geloof vra dat ek in Jesus sy Godheid én mensheid ontdek. En daardeur ontdek ek dat Jesus in sy Goddelikheid én in sy menslikheid steeds in hierdie wêreld teenwoordigheid is. In Jesus het God naby aan my gekom. En in Jesus is God steeds in hierdie wêreld teenwoordig.

Ons moet onthou dat dit juis die nood (fisies, emosioneel én geestelik) van die wêreld en sy mense is wat Jesus na hierdie wêreld laat kom het; om deur sy lewe en sterwe nuwe hoop en sekerheid te bring. As my nood die beweegrede agter Jesus se koms na die aarde was; en as die Seun van God se menswording ‘n volledige identifikasie met hierdie wêreld en sy stukkend is – hoe sal Hy dan op hierdie moment, wanneer ek Hom die heel nodigste het, van my vergeet en ver van my af staan?

As Jesus sy Naam van Immanuel, God met ons, ooit gestand gedoen het, glo ek is dit juis nou, in ons uur van diepste nood. God is hier, ons hoef nie daaroor te wonder of twyfel nie. Geloof vra dat ek Hom in hierdie tyd sal raaksien in die vrede, krag en voorsiening wat Hy bied; dat ek God sal raaksien in die oomblikke van medemenslikheid om my; in die uitdagings, maar ook in die voorsiening in my lewe.

Mag die wêreld ook iets van God se teenwoordigheid in my (mede-)menslikheid herken en geniet. Mag ek vandag vir mense wys hoe lyk Jesus “met ‘n vel om”.

Jesus is Immanuel …

Vrede vir jou!

Ds Mauritz

Posted in nuus.