15 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Dit begin vir my voel asof ons in die skaduwee van die Covid-19 pandemie begin leef. Covid-19 het op ‘n manier net statistieke geword. Maar vir die onmiddelike is daar ander kwessies op die tafel. Die geweld wat die laaste tyd hier in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd weer opvlam, maak my onrustig. (Die lockdown was sleg, maar ten minste het mense mekaar uitgelos!)

Die slegte is dat ‘n mens so in die hande van ander mense uitgelewer kan voel. Dit kan so maklik gebeur dat my lewe bepaal word deur wat ander mense doen en/of besluit. Ek is dikwels nie meer in beheer van my lewe nie, en ek moet die hele tyd net skuif en aanpas om ander mense se optredes te ontduik. Die mense wat so maklik vir God die skuld vir al die slegte goed in die wêreld wil gee, vergeet heeltemal te maklik dat al die boosheid van ons wêreld mensewerk is …

In Ps 56 bevind Dawid hom in die mag van die Filistyne, die groot vyande van Israel. Hulle maak die lewe vir hom moeilik en ondraaglik. En daarmee is hy met die Here besig. Dan skryf hy in verse 9 – 12:
“⁹My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie,
U het op my trane gelet.
In u boek staan hulle opgeteken.
¹⁰Die dag wanneer ek na U roep om hulp,
val my vyande terug.
Dít weet ek: God is aan my kant.
¹¹In God, wie se woord ek prys,
in die Here, wie se woord ek prys,
¹²in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.
Wat kan ‘n mens aan my doen?”

In die tyd waarin Dawid aan die mag van ander mense oorgelaat is, hou hy aan twee dinge vas:
* Die Here weet. So baie psalms begin Dawid met die woorde: “Moet my tog nie vergeet nie, Here.” Maar híér weet Dawid: God weet, Hy vergeet nie.
* Omdat hy sy vertroue in die Here stel, kan mense eintlik niks aan hom doen nie – in God se hande is hy veilig.

My ma het altyd vir my gesê: “Sticks and stones can break my bones, but names will never hurt me.” Ek dink die Christelike weergawe is: Mense kan niks aan my doen nie, want ek is veilig in God se hande.

Dis maar al waaraan ons kan vashou in hierdie tyd: die Here weet, ek is in sy hande, daarom is ek nie bang nie.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.