16 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons praat oor lewe, en wat “lewe” vir my as gelowige beteken.

Ons meet baie keer “lewe” aan dinge soos plesier, produktiwiteit, sinvolheid, verhoudinge, ens. Ons fokus dikwels op wat ek uit die lewe kan kry, of wat ek daartoe kan toevoeg; en baie kere is die belangrikste letters in die woord “lewe” vir ons die letters “ek” … Julle onthou die gewilde liedjie van Annelie van Rooyen: “Ek lewe …”. En op ‘n manier is dit wat ons almal wil kan sê: Ek lewe …; nie net fisies nie, maar ook sinvol en met betekenis.

In Galasiërs 2 praat Paulus oor die verlossing uit genade, en die geloof in Jesus, alleen. In vers 19b & 20 lees ons:
“ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

As ek dit reg verstaan, gaan “lewe” vir ons as Christene nie in die eerste plek oor wat ek daaruit kan put nie, maar oor die lewe wat Jesus my gee, deur sy kruisdood heen. Ons sê oor bekering: “Ek nooi Jesus in my lewe in…”. Ek dink dit is méér is dit. Jesus word nie deel van my lewe nie, Hy wórd my hele lewe! Ek lewe nie meer nie, maar Jesus leef in en deur my na die wêreld; God se wêreld.

Ek dink ook ons moet versigtig wees om nou te wil dink dat Jesus in my, my wegneem uit hierdie wêreld en dat ek nou niks meer van hierdie lewe mag geniet nie! Inteendeel: as kinders van Jesus het ons méér rede om vreugdevol en sinvol te leef. Maar dan met die wete: dis nie meer ek wat leef nie, maar Christus in my.

Miskien moet ons vandag ‘n bietjie met die vraag besig wees: Hoe leef Jesus in my lewe? – in my huisgesin, in my vriendekring, in my werk, in my ontspanning, in my sinvolle soeke na sin en betekenis in hierdie lewe.

Mooi dag vir jou

Wees veilig, leef naby Jesus

Posted in nuus.