17 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons sou vandag op “parool” vrygelaat gewees het na die aanvanklike afkondiging van die inperking, wat intussen met nog twee weke verleng is. En as mens so daaraan dink, kan jy nogal moedeloos word. Ek vermoed teleurgestelde verwagtinge is van die slegste goed wat ons kan beleef. En soms gebeur dit ook dat ons in die Here teleurgesteld kan wees; in die besonder wanneer my verwagtinge in die lewe nie vervul word nie.

Psalm 31 is ‘n aangrypende psalm. Dis ‘n psalm van Dawid waarin hy begin met die woorde:
“By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgesteld staan nie!”
Maar waarin Dawid ook die psalm afsluit met die woorde:
“Wees dus sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel.”

Hoe gebeur dit dat Dawid, in die loop van 25 verse, van potensiële teleurstelling na geloof en vertroue gaan? Ek vermoed dis omdat hy twee baie belangrike stellings maak; die een ‘n besluit, en die ander ‘n geloofsbelydenis:
Vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor,” – ‘n besluit/keuse
Vers 16: “My tye is in u hand.” – ‘n geloofsbelydenis
Twee uitsprake van Dawid wat hom van teleurstelling/wanhoop neem na geloof en vertroue.

In hierdie tyd waarin ons nou is, maar ook vir elke dag van ons lewens, én vir die lewensituasies wat ons deurmaak, is die kosbaarste besluit wat ek kan neem om my lewe, geheel en al, volkome in God se hande te plaas, in die seker wete dat wat ookal in my lewe gebeur, ek in God se hande veilig en geborge is.

Mag jy die genade beleef om vandag, en elke dag hierna, jouself veilig in God se hande te bevind.

Mooi dag vir jou

Wees veilig, wees veilig in God se hand

Posted in nuus.