2 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Psalm 126
“¹’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion verander het,
was dit vir ons soos ‘n droom.
²Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”
³Die Here hét groot dinge aan ons gedoen;
ons was bly.
⁴Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
⁵Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.
⁶Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.”

Daar is baie tye en situasies van my lewe waarvan ek kan getuig dat die Here werklik ingegryp het, en my lot verander het – baie. En ek is die Here innig dankbaar daarvoor.

Daar is baie tye en situasies van my lewe waarvan ek kan getuig dat niks verander het nie, my lot het dieselfde gebly, en dit was swaar om te vat en verwerk. Maar ek is die Here ook dankbaar daarvoor.

Ek is dankbaar vir die tye waarin die Here my lot verander het, want dit het my herinner dat ek Hom werklik kan vertrou.

Ek is dankbaar vir dit wat Hy nie verander het nie, al wou ek hê dat Hy moes, want dit herinner my aan hoe ontsettend afhanklik ek van Hom is. Ek moes ondek dat ek geheel en al niks is sonder God nie – Hy is my ewige bron van krag, hoop en lewe. Ek leef maar elke dag met bedelaarshande voor Hom.

Ek moes ontdek dat God soewerein is, en dat Hy, omdat Hy God is, met my ou lewetjie kan doen wat Hy wil, want ek weet, sy wil is heilig en sy hart is goed; ek kan Hom vertrou vir alles – al draai dinge nie uit soos ek dit wou gehad het nie.

Ek moes veral ontdek dat God goed is – meer as wat ek kan hoop of dink of selfs bid dat Hy moet wees. Ek moes leer aanvaar dat God goed is, selfs wanneer die lewe teen my draai.

Ek moes leer dat ek maar net hier op aarde moet leef, doen wat ek kan, en om God te vertrou vir die res.

Want aan die einde van alles, na al hierdie swaar en seer verby is, gaan ons weer lag, gaan ons bly wees, gaan ons juig, want Hy is ons God wat ons innig lief het.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.