23 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Vandag weet ek nie eintlik wat om te sê nie …

Gistermiddag gaan gee ek en Sonja ‘n kospakkie by iemand af. Die vrou is 60 jaar oud. Sy bly alleen in ‘n klein meenthuisie. Sy het niemand nie. Sy het tydelik haar werk a.g.v. die impak van die Covid-19 inperkings verloor. Sy weet nie of sy sal kan terugkeer werk toe nie. Sy het al begin om van haar meubels te verkoop. Sy moet met die eienaar van die meenthuis gaan onderhandel oor die huur wat sy hierdie maand nie kan betaal nie. Sy huil heeltyd.

Ek weet: elkeen se probleem is elkeen se probleem. En elkeen van ons beleef ons swaarkry as ‘n werklikheid. Daar is baie mense wat nou swaarkry, op soveel vlakke: fisies, finansieel, emosioneel … En ons álmal kry op een of ander manier swaar. Maar gemeet teen ander het ek dit maklik. Inteendeel, dit gaan met my baie goed! Hoekom gaan dit met sommige goed en met ander nié? Daardie vrou is ook ‘n Christen, sy glo ook …

Ek het nie antwoorde op hierdie tipe van moeilike lewensvrae nie. Ek kan dit nie verduidelik of verklaar nie. Op die ou einde kan ek net na my eie lewe kyk, en die beste maak met dit wat die Here vir my gee. Kan ek probeer om onvoorwaardelikheid lief te hê, en om te probeer om soveel goed te doen as wat ek kan.

En ek kan dankbaar wees – so ontsettend dankbaar. Psalm 100 word getipeer as “‘n Dankpsalm”:
“Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
²Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
³Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
⁴Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
⁵want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.”

Ek kan maar net dankie sê. Ja, daar is in my lewe ook maar dinge wat nie lekker is nie. Maar as ek stil raak, en die somme begin maak, dan weet ek, ek het só baie wat my tot dankbaarheid stem. Die Here is werklik goed vir my. Daarom kan ek maar net die woorde van Ps. 100 eggo: “Gaan sy poorte binne met dankliedere … aan sy liefde is daar geen einde nie …”. Ek is só dankbaar teenoor die Here. Hy ís goed vir my!

Maar daardie vrou … sy bly in my gedagtes ….

Wees veilig, vertrou op die Here.

Ds Mauritz

Posted in nuus.