24 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ek hoor, sien en beleef al hoe meer dat mense swaarkry in hierdie tyd, en dat mense trouens swaarder begin kry. Die impak van die Covid-19 pandemie wat regtig mense bang maak – veral vir siek word. Die impak van die inperking wat mense eensaam en onseker laat. Die impak van die ekonomiese onsekerheid en die spanning wat dit meebring.

En dit is een ding as ongelowige mense dalk in ‘n paniek gaan. Maar ek ontdek dat selfs diep gelowige mense in hierdie tyd vrae vra, onseker voel, selfs verlate voel. Ekself moet my soms maar kwaai aanspreek as ek kwaad of moedeloos wil word. En ek aanvaar dis menslik, almal gaan maar deur moeilike tye in ons lewens. Ons voel nie almal altyd ewe dapper en “gelowig” nie.

In hierdie tyd is die Bybel, en die ankers wat ons daarin vind baie kosbaar – dit vertel ons tog oor God se betrokkenheid by sy wêreld. Genesis 16 vertel die verhaal van Sarai wat haar slavin Hagar vir Abram gegee het om by haar ‘n kind te verwek. Die uiteinde is familiespanning, verwyte en niks anders as ‘n groot gemors nie. Só dat Abram vir ‘n swanger Hagar in die woestyn instuur. Daar het Hagar egter ‘n besonderse ontmoeting met God. Dan lees ons in Gen. 16 : 13:
“Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

Die naam waarmee Hagar hier vir God aanspreek, is El Roï, wat vertaal word met “God wat sien”. Hy is die God wat nie net vir Hagar in haar krisis raaksien nie, maar wat (so vertel die Bybel ons op baie plekke) alles in die skepping raaksien. Daar is niks van ons wêreld vir God onbekend nie. Daar is niks van my lewe vir God onbekend nie – ook nie van joune nie … (lees gerus weer ‘n slag Psalm 139)

God is egter nie net die God wat sien nie, maar ook die God wat Homself sigbaar maak – Jesus is God wat Homself kom deel maak het van hierdie stukkende wêreld. En hoeveel keer lees ons nie in die Nuwe Testament hoe Jesus, die Seun van God, mense in hulle nood raakgesien het en na hulle uitgereik het nie?

My en jou lewe mag dalk vandag onbeduidend voel. Dit mag dalk voel asof alles oor my wil spoel en my in ‘n maalkolk wil wegvoer. Dit mag voel of jou dalk wil wegsink in wanhoop of onsekerheid. Dit mag vir jou voel of jy eensaam en alleen in jou worstelinge is. Onthou vandag vir ­El Roï­, die God wat sien. Die God wat vir jóú ook sien. Die God wie ook deur jóú worsteling aangespreek word én wat jou wil herinner aan sy troue teenwoordigheid en deernis met jou.

Mag jy vandag duidelik sien dat God vir jou sien …

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.