25 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ons almal voel soms asof ons met ‘n wonderwerk in ons lewens kan doen. Ek bedoel, net soms raak dinge só moeilik en onseker, dat jy voel asof net ‘n wonderwerk van God jou nou uit hierdie situasie kan red.

‘n Man het in die woestyn verdwaal en het gedink dat hy dit nie gaan uitmaak nie. Na die tyd vertel hy vir ‘n vriend: “Ek was vir drie dae in die woestyn verdwaal, sonder water of kos. Ek het nie geweet waar ek is nie. Ek het baie gebid dat die Here my moes help en kom red, maar Hy het nie. As daar nie toevallig ‘n man op ‘n kameel verby gekom het nie, het ek sekerlik daar in die woestyn gesterf!”

Ek vermoed ons soek meestal vir God in die bykans onmoontlike wonderwerke (en ja, Hy doen dit óók!). Maar ek vermoed dat by verre die meeste van God se wonderwerke geskied deur die eenvoudige dade van menslike liefde, deernis en uitreik na ander.

Die apostel Johannes (die dissipel van die liefde) skryf in 1 Johannes 3 : 16 & 17:
”¹⁶Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. ¹⁷Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”

Jesus het vir ons die voorbeeld kom stel van selfopofferende liefde. Ons kan ook so wees en leef. Maar ons moet mooi hoor: dit begin by wat in my hart t.o.v. mense se nood leef – om soos Jesus ‘n hart vir ander te ontwikkel.

Maar hoe kosbaar is dit nie ook dat God ook ander mense se harte aanraak t.o.v. my nood nie!? Die Here wil nie net hê ek moet sy wonderwerk in ander se lewens wees nie. Hy wil ook vir ander mense sy wonderwerke in my lewe maak. Wat my net weer bring by hoe kosbaar die woordjie “mekaar” is. Ons het mekaar nodig. Ons is hier vir mekaar. God het ons vir mekaar gegee.

Mag jy vandag God se wonderwerk van omgee, liefde en deernis vir iemand anders wees. Maar mag jy ook vandag God se liefde, teenwoordigheid en deernisvolle betrokkenheid in jou lewe beleef in die mense wat Hy oor jou pad stuur.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.