30 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ons almal ken sulke mense: daardie persoon wat as jy hom/haar raakgeloop het, of by hom/haar gekuier het, en jy stap weg, dan voel jy sommer ‘n nuwe mens en goed oor jouself. Hulle positiwiteit en lewensgees steek jou sommer aan.

Ons almal ken sulke mense: daardie peroon wat as jy hom/haar in die winkel raakloop, dan kies jy skielik die volgende ry; of wat as jy dink: ek moet by hom/haar gaan kuier, dan sê jy vir jouself: môre … want hulle negatiwiteit en swartgallige lewensuitkyk kry jou onder.

Watter een is ek?

In die Brief aan die Filippense kry ons vir Paulus waar hy in die tronk in Rome sit. Maar hy skryf vir ‘n gemeente in Filippi vir wie hy baie lief is. Wat ‘n mens dadelik van die brief opval, en wat jou by bly, is Paulus se positiewe en blymoedige gees. Hy sien selfs die positiewe in gevangeneskap raak, en is dankbaar vir die positiewe effek wat dit op ander mense het.

‘n Voorbeeld: Filippense 1 : 12 – 14:
“¹²Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. ¹³Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. ¹⁴Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”

Verder aan in dieselfde hoofstuk skryf Paulus oor mense wat die evangelie om verkeerde redes verkondig, selfs om hom te benadeel. Maar hoe reageer hy daarop? Vers 18: ”Maar wat maak dit saak? … op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly.”

Ek vermoed dat Paulus die sleutel agter hierdie positiewe lewensingesteldheid van hom vir ons in vers 21 gee: “want om te lewe, is vir my Christus” – sien, Paulus se hele lewe gaan oor Christus, sy lewe is gewy aan Christus, sy roeping is Christus, Christus moet in alles verheerlik word.

Daarom: kom ons leef vandag – te midde van alles wat ons pla en moeg maak – met ‘n positiewe gees, want om te lewe, is vir ons Christus! Iemand het gesê: Dis lekker om ‘n mens te wees, maar dan moet jy ‘n lekker mens wees.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.