5 Junie 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Een van die groot vrese wat baie mense het, is dié van eensaamheid. Ek vermoed veral in hierdie inperkingstyd was eensaamheid vir baie mense ‘n groot realiteit. En dis baie maklik om te sê: “Ja, maar onthou, die Here is altyd by jou!” In sekere situasies kan dit verskriklike goedkoop en betekenislose troos wees, want ek vermoed almal van ons kan soms ongelooflik eensaam en alleen voel …

En tog is dit die waarheid: die Here ís altyd by ons! In die Johannes-evangelie lees ons van hoofstukke 13 tot 17 Jesus se “testament” – sy laaste boodskap aan sy dissipels voor sy kruisdood. Hoor wat sê (belowe) Jesus in Joh. 14 : 25 & 26:
” 25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik om die Heilige Gees te beskryf (in die 1983-Vertaling vertaal met “Voorspraak”) is die woord paraklétos. Hierdie woord is saamgestel uit twee Griekse woorde: para wat “naby” of “aan my sy” beteken, en kaléo wat “om te roep” beteken. Paraklétos direk vertaal beteken dus: “die een wat geroep is om naby my te wees”. (Paraklétos is ook gebruik om “advokaat” te beteken)

Hoe ongelooflik kosbaar is hierdie beskrywing van die Heilige Gees nie?! Dit is die doel waarvoor die Vader die Heilige Gees aan die kerk geskenk het: om naby ons te wees. Om ons telkens te herinner aan, én bewus te maak van, God se werklike nabye teenwoordigheid by elkeen van sy kinders.

Dus: al kan ek nie die Gees sien nie; en al voel ek soms ver van God af: God is deur sy Gees naby my – ín my. Daarom is die woorde: “Maar die Here is mos naby aan jou!” nie goedkoop troos nie, want dit is inderdaad die absolute waarheid. Daaraan kan ek myself telkens herinner. Daarmee kan ons mekaar bemoedig en vertroos in hierdie tyd. Ons kan dit ook vir die wêreld gaan vertel; ‘n wêreld wat juis ook in hierdie tyd vir die kerk vra: “Waar is God?” En die antwoord is eenvoudig: God is by ons. Deur sy Heilige Gees (die Parakleet) is God baie naby aan ons.

Mag jy vandag vreugdevolle hoop en troos vind in die wete dat God deur sy Heilige Gees baie naby aan jou kom.

Mooi dag vir jou

Ds Mauritz

Posted in nuus.