6 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

In Psalm 73 worstel Asaf met die Here. Na sy oordeel tree God nie regverdig op nie. Hy wat Asaf is (hy was waarskynlik ‘n priester) wy sy hele lewe aan die Here, maar hy kry swaar. Dit voel vir hom of hy net elke dag pak kry (vers 14). Daarenteen kyk hy na die goddelose, en skynbaar gaan dit met dié baie goed! Die goddelose se lewe gaan vooruit.

Soos ons as kinders gesê het: “Dis nie fair nie!”

Uiteindelik kom Asaf egter tot die insig dat sy manier van redeneer nie baie slim was nie, en dat die goddelose se dae eintlik getel is – hulle loop inderdaad “op gladde plekke” (vers 18); en dat daar eintlik ‘n verskriklike einde op hulle wag. Daarom bely Asaf dan ook dat hy “dom en sonder insig” was (vers 22) in hoe hy oor God gedink het.

So wat bly dan vir gelowige oor wat in hierdie lewe swaarkry en onreg beleef? Hoor wat skryf Asaf in Ps. 73 : 23 – 28:
²³Tog was ek nog altyd by U,
want U vat my aan die hand.
²⁴U lei my met u raad
en aan die einde sal U my in ere by U opneem.
²⁵Daar is niks in die hemel of op die aarde
wat vir my meer beteken as U nie.
²⁶Al is ek afgetakel na liggaam en gees,
God is my sterkte;
aan Hom behoort ek vir altyd.
²⁷Dié wat ver van U af is, gaan verlore,
U vernietig dié wat aan U ontrou is.
²⁸Maar wat my aangaan, dit is vir my goed
om naby God te wees.
Ek het die Here my God gekies as my toevlug!
Ek sal van al u werke bly vertel.

Hoor mooi wat sê Asaf: “ek was nog altyd by U” – die Here was nooit ver nie, al het hy so gedink. Hoekom was die Here nooit ver nie? “… want U vat my aan die hand”. Sien, ons kan God se hand los, en ons los soms. Maar God los nooit ons hand nie! My nabyheid aan God hang nie van my af nie, want God het reeds gekies om naby my te wees, en Hy is ook, elke dag.

Daarom, maak nie saak wat die lewe na my kant gooi nie (“Al is ek afgetakel na liggaam en gees” – vers 26), God is en bly getrou en Hy sal my gewoon nie laat los nie! In Joh. 10 : 29 sê Jesus: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”

Daarom: maak nie saak hoe sisteme en mense om ons ons faal nie, God sal getrou bly. Hou vas daaraan

Mooi dag!

Mauritz

Posted in nuus.