8 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Boney-M sing in die liedjie By the Rivers of Babilon: “How can we sing the Lord’s song in a strange land?” Dit voel vir my ook so. Ek leef in ‘n vreemde land. ‘n Land wat my geloof en naasteliefde in hierdie vreemde tyd tot die uiterste toe toets.

En tog: hoor wat skryf Petrus in 1 Petrus 2 : 11 & 12:
“¹¹Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. ¹²Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Petrus sê vir die kerk: ons hoort eintlik nie hier nie. Ons leef inderdaad in ‘n “strange land”. Hy beskryf ons (die kerk) as vreemdelinge (Eng: “aliens”) in hierdie wêreld. Daarom verstaan die wêreld ons nie altyd nie, juis omdat die kerk se wyse van doen en praat ánders is as wat die wêreld ken. Ons andersheid as die wêreld kenmerk die kerk.

Petrus beskryf ons (die kerk) ook as bywoners in die wêreld – ons bly maar net hier, maar dit behoort nie aan ons en ons aan die wêreld nie. Ons erfenis is iets héél anders.

Maar daarom moet ons ook mooi oplet. Al is ons nie van hierdie wêreld nie, is ons ín hierdie wêreld. Daarom vra Petrus: “Gedra julle goed …”. Ja, ons as Christene moet ook in hierdie uitdagende tye, wat baie selfbeheersing en moed vra, let op wat ons sê en doen, want die wêreld hou ons dop. Ons word uitgedaag tot ‘n “voorbeeldige lewe”. As jy wil sien waarvan iemand gemaak is, skud sy wêreld en kyk wat val uit. Wat sien die wêreld in die kerk (dis nou elkeen van ons wat sê ons is Christene) wanneer Covid-19 en lockdown-inperkings ons lewenswêreldjies skud?

Hoekom moet ons ons “gedra”? Sodat ons “God kan verheerlik …”. Dit gaan nie oor my nie, maar altyd oor God. Daarom moet ons voordurend vir onsself in hierdie tyd vra: is my woorde en optrede ‘n blymoedige getuienis van die geloof wat ek dalk so maklik bely, of getuig my voorbeeld van iets heel anders?

Actions speak loader than words …

Bly sterk, bly veilig

Groete

Ds Mauritz

Posted in nuus.