9 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Op ‘n goeie dag het Jesus vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” (Joh. 21 : 15). Drie keer moes Petrus die vraag hoor, en drie keer kon hy vir Jesus in die oë kyk en sy liefde vir Hom verklaar.

As Petrus sy brief aan die gemeente skryf, kan hy, óf sy lesers, op daardie oomblik nie vir Jesus fisies sien nie. Trouens, waar Petrus darem vir Jesus tydens sy bediening op aarde kon sien, volg en beleef, het die gelowiges vir wie Petrus skryf, nie een ooit vir Jesus gesien nie. En tog is hulle lief vir Hom te midde van erge vervolgings en besproewings. Tog volhard hulle in hulle geloof.

Petrus skryf in 1 Petrus 1 : 6 – 9:
⁶Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings ⁷sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. ⁸-⁹Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Ons is ook lief vir Jesus, al het ons Hom nog nooit fisies gesien nie. Ons dien Hom, ons leef vir Hom, ons ly vir Hom. Dít is die geloof waarvan Petrus hier praat. Ons geloof is gebou, nie op wat ons sien of beleef nie, maar op die eindbestemming van ons geloof, naamlik die saligheid – die ewige lewe deur en by Christus.

Ons vreugdes en sekerhede is daarom nie gebou op dit wat ons om ons sien nie (want ek vermoed dat wat ons tans om ons sien juis dreig om ons moed te breek), maar op wat vir ons voorlê, die heerlike ewigheid saam met Jesus – en dit vul ons met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.