9 Junie 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons ken die gesegde: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” En dis só waar: dit wat vir my belangrik is, daaroor praat ek graag – of dit nou my kinders, my gesin, my werk, my sport, my stokperdjie, of wat ookal is.

Die laaste tyd praat almal omtrent net Covid, want dis wat in ons harte leef. Ons bekommernisse, ons vrese, ons planne, ons aanpassings, alles gaan net oor Covid en die gevolge daarvan vir ons. Netso natuurlik ook die misdaad en rassisme en al die ander lelike goed wat tans in ons wêreld aan die gang is.

En ongelukkig kan ons nie volstruis-politiek toepas en ons koppe in die sand druk en dink alles gaan dan weggaan nie. Dit ís ons wêreld, en dit ís ons realiteit. Ons móét daarvan kennis neem, en ja, ons moet ook daaroor praat. Maar die groot gevaar is dat hierdie goed só ons lewens kan oorneem, dat ons alle ander perspektief en lewe uit die oog verloor.

Spreuke waarsku ons hierteen. Spr. 4 : 23:
”²³Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

En dit is eintlik só logies. Dit wat ek toelaat om my hart en my denke te oorheers en oor te neem, dít gaan my lewe op die ou einde bepaal. En as ek gaan toelaat dat die sleg van hierdie tyd waarin ons tans is my lewe, my gedagtes, my hart gaan oorneem, gaan ek hoop verloor, gaan ek moeg en moedeloos word, gaan ek negatief dink, praat en optree.

Aan die ander kant sê Psalm 37 : 1 – 5:
“Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
²want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.
³Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
⁴Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
⁵Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Ja, dis wat ek kies. Dís hoe ek my hart gaan bewaar in hierdie tyd. Ek kies om op die Here te vertrou. Ek kies om my vreugde in Hom te vind. Ek kies om my hele lewe aan die Here oor te gee, want ek weet my heil en hoop lê geensins in mense, in politieke leiers of die sogenaamde “beleidmakers” en “trendsetters” van ons wêreld nie. Nee, my hoop lê alleenlik in die Here. Daarom gaan ek my hart eerder volmaak met Hom, met sy liefde, lewe en genade. Want is dít is wat in my hart leef, sal dit ook word wat ek elke dag na buite leef.

Pas jou hart op!

Ds Mauritz

Posted in nuus.