Nasionale inperking – vlak 3

Goeie môre Heuwelkruiner

Ek vertrou dat dit nog goed gaan met jou en dat hierdie tyd vir jou ‘n tyd van groot genade is.

Die Dagbestuur het gisteraand vergader om die geleidelike normalisering van ons gemeente se werksaamhede te bespreek. Die volgende aanbevelings is gemaak:

Die kerkkantoor is vanaf Maandag 1 Junie oop, maar vir eers net van 9:00 tot 13:00.

Die skoonmaakpersoneel sal ook van Maandag af weer voltyds begin werk, maar net tot 15:00 totdat die publieke vervoer weer in volle swang is.

Bybelstudie- en Omgeegroepe: i.t.v. vlak 3 van inperking kan kleingroepe vanaf 1 Junie bymekaar kom. MAAR dit kan egter SLEGS by die kerkkompleks gebeur, en nog nie by lidmate se huise nie. Dus, indien Bybelstudie- of Omgeegroepe wel byeen wil kom, kan julle dit met die grootste vrymoedigheid by die kerk kom doen, ons het lokale daarvoor beskikbaar; reëls asb. net vooraf met die kerkkantoor t.o.v. tyd en plek.

Eredienste op Sondae: Dit is die Dagbestuur se eenparige gevoel dat vir die huidige ons nog nie ons eredienste gaan hervat nie weens die onpraktiese riglyne wat gegee is, sowel as die risiko’s t.o.v. lidmate se gesondheid (veral die lidmate bó 60 jaar). Daarom gaan dit nie op hierdie stadium sinvol wees om eredienste in die kerkgebou te hervat nie, en dat ons nie aan die ware doel en karakter van die erediens reg sal kan laat geskied nie. Ons monitor egter die situasie en sal met die gemeente duidelik kommunikeer oor verdere verwikkelinge. Vir die huidige gaan ons voort met daaglikse oordenkings wat uitgestuur word, en die e-eredienste op ons Youtube-kanaal en via stemboodskappe.

Sanitering: In die lig van bg. is ons besig om alles in te plek te kry en om die kerk se geriewe so skoon, veilig en toeganklik moontlik vir gemeentelede te maak.

Met die oog op die barmhartigheidswerk van die gemeente (soos ons gebruik tydens Pinkstertyd was), versoek ons lidmate om komberse, klere en nie-bederfbare kos na die kerkkantoor te bring (bedags tussen 9:00 en 13:00) wat versprei sal word na welsynsorganisasies. Gee asb. alle bydraes teen 12 Junie by die kerk af.

Ons neem ook vrymoedigheid om lidmate aan te moedig t.o.v. hulle dankofferbydraes aan die gemeente. Die werksaamhede gaan voort, maar aangesien ons nie tydens die tyd van inperking eredienste kon hou nie, het ons ‘n verlies aan inkomste t.o.v. bankkollektes van tussen R25 000 en R30 000 per maand gehad. Baie dankie vir jou getroue bydraes aan Heuwelkruin.

Vir enige navrae, kontak gerus vir ds Mauritz 079 895 3916.

Wees veilig, volhard in geloof.

Groete
Ds Mauritz

Posted in nuus.