1 Junie 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Gister het ons Pinksterfees gevier – die herdenking van die uitstorting van die Heilige Gees. Handelinge 2 : 1 – 4:
“¹Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. ²Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. ³Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. ⁴Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.”

In die kerk sê ons dat Pinkster die verjaarsdag, die geboortedag van die kerk van Jesus Christus is. Onder leiding van die Heilige Gees het die dissipels op Pinksterdag reeds begin om, vir die eerste keer, werklik getuies van Jesus te wees. Voor Pinkster was hulle dissipels (volgelinge), maar met die uitstorting van die Heilige Gees word hulle apostels (gestuurdes) wat die goeie nuus van die verlossing in Jesus Christus na die wêreld neem; so het mense hulle bekeer, en só het die kerk tot stand gekom.

Vandag nog leef en getuig die kerk vanuit ons noue verbintenis met die Heilige Gees. Daarom is dit krities belangrik dat ons die teenwoordigheid en werk van die Gees in ons lewens moet aanvaar en erken; maar ook dat ons bewustelik die troos en leiding van die Gees in ons lewens moet soek.

Ons moet maar erken dat ons waarskynlik nader aan die Vader en die Seun leef, as aan die Gees. Tog is die Gees ín ons; het ons elkeen ook die Gees van God ontvang. Daarom is die uitdaging vir die kerk, maar ook vir ons elkeen persoonlik/individueel, om bewus te wees van die Gees in ons. Ons moet soekend toelaat dat God ons deur sy Gees lei.

Vra jouself vandag die vraag: Hoe sien en beleef ek die Heilige Gees in my vandag – in my werk, in my interaksie met my gesien/vriende, in my denke?

Mag jy vandag die Heilige Gees van God as lewende werklikheid naby aan jou beleef.

Mooi dag
Ds Mauritz

Posted in nuus.