2 Junie 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Een van die kosbare sekerhede wat die Heilige Gees vir ons bring, is dat ons gebedslewe nuwe betekenis en inhoud kry. Dit gebeur dat jy soms ‘n oomblik beleef, of by ‘n punt in jou lewe kom, waar jy nie weet wat om te bid nie, of wanneer jou woorde min of selfs op raak. Die wonderlike is dat die Heilge Gees die dinge wat in my hart leef, maar wat ek nie in woorde kan omsit nie, neem en mooi maak by die Vader.

Romeine 8 : 26 & 27:
“²⁶Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. ²⁷En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”

Wat ‘n kosbare herinnering: dis nie altyd my sogenaamde “kragtige gebede” wat God in beweging bring nie, maar my soms swak en onhandige woorde wat die Gees neem en by God mooi maak. Want die Gees ken ons harte, ons behoeftes, ons versugtinge. Daarom kan die Gees selfs my gebrek aan woorde neem, en dit omvorm tot ‘n gebed wat God se hart raak.

In Openbaring 5 : 8 word ons gebede in God se troonsaal beskryf as: “’n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges”. Ons gebede is vir God “welriekend”, nie omdat ek hier op aarde sogenaamd die “regte woorde” gebruik het nie, maar omdat die Gees my “swak woorde” neem, en dit by God mooi maak.

Daarom kan ek bid. Daarom kan ek my hart voor God oopmaak. Daarom kan ek soms net by God stil wees; want die Heilige Gees gaan fluister in God se oor dié dinge wat in my hart leef – en dít is my krag en hoop.

Mag jy vandag beleef dat die God wat deur sy Gees in jou woon, jou hart en versugtinge ken, en kan voorsien in elke behoefte wat jy het.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.