3 Junie 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Iemand het eenkeer gevra: “As mense by jou begrafnis net één woord moes gee om jou te beskryf, wat sou jy wou hê moet daardie woord wees?” Sjoe, dis ‘n gróót vraag om te probeer beantwoord. Ek dink ek sou graag wou hê mense moet van my sê: “Hy was ‘n ‘nice’ ou!” Want ek weet, ek is nie altyd so ‘nice’ soos wat ek graag sou wou wees nie …

Maar wat beteken dit om ‘n ‘nice’ mens te wees? Ek vermoed vir myself beteken dit dat ek werklik iets van Jesus se karakter vertoon. Dat iets van sy liefde, omgee en goedheid ook in my lewe sigbaar sal wees. Maar hoe?!

2 Korintiërs 3 : 18 sê:
“¹⁸Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Dít is een van die sekerhede wat Pinkster vir ons as gelowiges, én vir die kerk, bring: die Heilige Gees is vormend in ons lewens besig. En die wonderlike is dat die Gees besig is om ons te vorm na die beeld van Christus! Maar méér nog: ons word deur die Gees omvorm om iets van Jesus na die wêreld te weerspieël – ons word onder die werking en leiding van die Heilige Gees weerkaatsers van Jesus se liefde, omgee en goedheid.

Hoe word ek ‘n ‘nice’ mens? Die Gees is reeds besig daarmee is my lewe. Natuurlik kan ek die vormingswerk van die Gees teëstaan; natuurlik kan ek ongehoorsaam wees! Daarom is dit belangrik dat ek bewustelik leef, oop vir die werking van die Gees; soekend na sy vormende krag in my lewe.

So dalk, eendag by my begrafnis, sal mense kan sê: “Hy was ‘n ‘nice’ ou.” Dankie Heilige Gees dat U met my besig is.

‘n Mooi Geesgevulde dag vir jou.

Ds Mauritz

Posted in nuus.