16 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ons hou oor die algemeen nie van klakouse nie. Ek self hou ek ook nie van kla nie. Maar net soms is dit lekker om te kla; om net so ‘n bietjie stoom af te blaas. Al doen niemand iets omtrent my klagtes nie, is dit ook OK, want ek kon darem ‘n slag my sê sê.

Dit klink vir my al te veel of die Israeliete tydens die ballingskap ook maar lekker kon kla. En seker met reg, want dit was vir hulle ‘n moeilike en uitmergelende tyd – ver van hulle land, mense, Jesrusalem en die tempel. Trouens, ek vermoed die Israeliete was maar ‘n klaerige volk. Reeds van die uittog uit Egipte af sien ‘n mens hoe hulle gedurig kla en mor teen God.

In Jesaja 40 vers 27 ev. hoor ons weer iets van die klag van Israel, maar ook God se antwoord aan hulle:
“²⁷Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel:
‘Die Here sien nie raak wat van my word nie,
my reg gaan by my God verby’?
²⁸Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.”

Israel moet hoor dat God hulle wél hoor. Maar ook moet Israel verstaan dat tye van beproewing vir geduld vra; en insig. Beproewingstye vra dat ek moet verstaan dat ook in híérdie tye God aan die werk is. Dat ook in moeilike tye God besig is om sy plan(ne) te ontvou en uit te pak. Dat sy volk moet vertrou op sy oordele en sy alwyse insigte.

Ek weet die Bybel nooi ons uit om met God in gesprek te tree, en dalk selfs ook om so ‘n bietjie by Hom te kla en mor. Maar dalk moet ons eers net ‘n bietjie geduldig wees. Dalk moet ons God kans gee om sy planne uit te voer in my lewe, sowel as in die wêreld. Ons weet mos ons kan God vertrou. Ons weet mos wie Hy is en dat sy wil heilig en reg is.

Daarom: kom ons wees so ‘n bietjie geduldig met God voordat ons begin kla en mor. Dalk net verras Hy ons met sy planne op maniere wat ons nooit eens kon droom nie.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.