17 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

My pa het altyd gesê: Daar is niemand so onkundig soos hy wat nie wil weet nie! Daar is ‘n reuse verskil tussen nie weet nie, en my blind hou vir die waarheid.

Wanneer Jesaja in Jesaja 40 besig is om namens God met die volk te praat, is hy juis besig om met ‘n moeë en moedelose volk in ballingskap te praat. ‘n Volk wat waarskynlik nie meer geweet het hoe hulle oor God moet dink nie. En daarom kom spel Jesaja vir hulle uit wie God is; vertel hy vir hulle van die almag en heerlikheid van God. Hulle moet dit weet. Hulle moet mos vir God so ken. Maar eers wanneer hulle dit verstaan, en dit deel maak van hulle persoonlike verhouding met die Here, dán kry dit betekenis en maak dit ‘n verskil in hulle lewe. Daarom is sy vrae in vers 27 retoriese vrae: ”Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?” Natuurlik het Israel gehoor! Natuurlik weet hulle!! Maar dalk verkies hulle om dit te vergeet.

Maar vir dié wat dalk vergeet het wie God is, kom herinner Hy:
”²⁸Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
²⁹Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
³⁰Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur struikel en val,
³¹maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Belofte op belofte vir wie vergeet het wie God is … Die Here gee krag vir die vermoeides, omdat Hyself nie moeg raak nie. En die wat gedink het hulle is sterk, en tog ook uitsak, ook vir hulle gee God krag – vir wie Hom vertrou; vir wie by Hom krag soek. Vir wie op God vertrou en hulle krag in Hom ontdek, voel dit asof hulle die skynbaar onmoontlike kan regkry! Dit smaak my ek vlieg sommer soos ‘n arend met God se krag!

Hoe kry ek dit reg om in hierdie tyd nie moeg en moedeloos te raak nie? Hoekom sak ek nie uit nie? Want my vertroue is in die Here. Dis vir my so mooi: die Here gee “nuwe krag”. Ek raak moeg, maar die Here tel my voete op. Ek raak moedeloos, maar die Here tel my gemoed op. Ek raak onseker en bang, maar die Here gee vir my nuwe visie, nuwe drome. Ja, en in Christus gee Hy vir my nuwe lewe.

Daarom: hou moed, want ons weet mos waar ons krag vandaan kom …

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.