16 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Hoe baie keer staan ek nie beskaamd wanneer ek ontdek hoe verskriklik belangrik ek vir myself kan raak nie. My wêreld kan so maklik niks groter wees as wat ek my arms kan uitstrek nie, en my denke niks verder as wat my neus lank is nie.

William Ernest Henley skryf in sy gedig Invictus: ­“I am the master of my fate; I am the captain of my soul”. Hoewel hierdie aan die een kant geweldige mooi en motiverende woorde is wat my aanmoedig om verantwoordelikheid vir my lewe te neem, hou hierdie woorde aan die ander kant ook groot gevaar in. Want so raak my lewe baie maklik in myself gekeerd, gefokus op my belange en drome; op my begeertes en welweë; op die paadjie wat ek vir myself in die lewe wil uitkap … en met respek gesê: ”te hel met die res!”

Ek dink wat my die meeste op die grond hou, is dat Jesus (en God) glad nie so is nie. Inteendeel, Jesus het vir ons ‘n heel anderse voorbeeld gestel. Dis aangrypend om in die Bybel te lees juis hoe God se hart op my as mens gerig is, en hoe geweldig groot sy liefde en omgee vir my is.

Ek lees in 1 Petrus 5 : 7:
“⁷Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Die Direkte Vertaling lees: “en werp elke bekommernis van julle op Hom, want Hy sorg vir julle.”. Die Boodskap sê: “Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.”

Hierdie woordjie “sorg” het my geïnteresseer. Die Griekse woord wat gebruik word, is “melei”. Dit beteken “to be of interest to, that is, to concern, it matters”. Ek en jy maak vir God saak. Ons sorge en bekommernisse maak vir God saak. Ons is vir Hom belangrik. Hy gee werklik om vir ons!

As ek dít van God ontdek, nl. dat ek regtig vir Hom saak maak en van belang is, dan raak my bekommernisse skielik baie relatief. Dan kan ek die seer, en bekommernisse, en onsekerhede van my lewe sien binne die konteks van God wat met my ‘n pad stap. My krisis maak vir God saak. Ek kan na Hom daarmee gaan. Hy sál luister, en Hy sál sorg!

My en jou lewe, met alles wat dit inhou, maak vir God saak – hoe awesome is dít nie!

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.