2 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons is in dag 7 van inperking (iemand het die mooi woord “grendelstaat” vir ons huidige situasie gebruik). Vroeër die week stuur iemand vir my ‘n sms oor die oordenkings wat uitgestuur word. Op die ingewing besluit ek om daardie persoon sommer te skakel en hoor hoe dit gaan – dis iemand wat alleen in hierdie tyd is. In die gesprek kom dit na vore dat daar familie van hierdie persoon is wat positief getoets het vir Covid-19. Lang storie kort: as ek nie geskakel het nie, het ek nie geweet nie …

Ons almal praat van daardie “stemmetjie” wat soms iemand op jou hart plaas; daardie naam wat sommer uit nêrens by jou opkom. Ek is oortuig dat die Here deur sy Gees mense op jou hart druk; mense wat dalk op daardie oomblik jou stem of ondersteuning nodig het.

Dit is opmerklik in Jesus se bediening hoe Hy net altyd opgedaag het daar waar mense Hom nodig gehad het. En hoeveel kere het Jesus in sy bediening op aarde nie die woord “mekaar” gebruik nie! In een van sy laaste gesprekke voor sy kruisiging, sê Jesus in Joh. 13 : 34 & 35:
34 Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Een van die kosbaarhede van die kerk is dat die Here ons vir mekaar gegee het – om mekaar lief te hê en so God se liefde vir die wêreld te illustreer.

In ons staat van inperking verlang ons na mekaar se teenwoordigheid, maar ons moet mekaar vermy. Maar ons hou daarmee nie op om vir mekaar lief te wees nie! Daarom nooi ek jou uit: as daardie naam by jou opkom (‘n vriend of vriendin, die bure, kollegas, ‘n familielid) … dalk het daardie persoon vandag jou uitreik na hom/haar nodig.

“Go ahead, make the call …”

Wees veilig. Vertrou in die Here.

Posted in nuus.