3 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Dit is dag 8 van inperking. Ek vertrou dat dit met jou goed gaan, en dat jy steeds bewus is van die Here se genadige liefde en sorg in jou lewe.

Oral hoor ons nou: ons moet leer om gemeente/kerk te wees in en op nuwe maniere. Maar wat is die kerk/gemeente? As ons Handelinge 2 : 43 tot 47 lees, val veral die volgende my op:
46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die vroeë kerk was nie groot gemeentes soos ons vandag ken nie. Hulle het in klein groepies in huise bymekaar gekom. Ons sê in die kerk dat die huisgesin die kerk in sy kleinste vorm is. Ons weet ons huisgesinne lyk verskillend. Maar die beginsel is: daar waar jy in jou huis is, is jy steeds gemeente/kerk van Christus. Daarom wil ek jou uitnooi: Oordink die volgende vragies, en as julle meer as een persoon in die huis is, gesels met mekaar hieroor (ek dink veral kinders kan dit geniet)

1. Wie is die Hoof van die kerk?

2. Wat doen die kerk? Wat is die kenmerke van die kerk?

3. Hoe kan ek/ons vandag ook in ons huise doen wat die kerk se werk is?

Ek daag jou uit om vandag kerk van Christus in jou huis te wees.

Wees veilig. Vertrou in die Here.

Posted in nuus.