4 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Dit begin voel asof die een dag in die ander een invloei. Die een dag is soos die ander. Ek moet op die kalender gaan kyk om te besef dis vandag Saterdag.

Psalm 90 word aangedui as ‘n gebed van Moses. Dit is aangrypend mooi om in Ps 90 op te let hoe God teenoor mens beskryf word. God word beskryf in terme van “van ewigheid tot ewigheid”. Die mens word beskryf in terme van “dae”. God word beskryf as die ewige wat nog altyd daar was en wat vir altyd daar sal wees. Die mens word word beskryf in terme van verganklikheid, tydelikheid. God is die toevlug vir die mens in sy nood. Die mens leef in sy eie broosheid en onvolmaaktheid.

Wanneer ek daarom, in ‘n tyd soos hierdie, diep bewus word van my eie broosheid, verganklikheid, soms onhandigheid om die situasies van die lewe te kan hanteer, ontdek ek ook die ewige God wat my toevlug, my wegkruipplek, my hulp is.

Vir my as nietige mens wat in hierdie lewe moet sin maak van alles, lees ek in Ps 90 van vers 12 – 17:
12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.
15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely het,
gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

Mag my en jou dae gevul wees met God se wysheid, sy liefde en sy goedheid. Mag God vir ons uitkoms gee. Mag ons ons dae vul met geloof, maar veral ook met die soeke na hoe ons God in hierdie dag, in hierdie tyd, op hierdie plek, kan dien.

Wees veilig. Vertrou in die Here.

Posted in nuus.