20 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ek luister gister na ‘n preek van iemand wat vra: “Het jy nou al opgehou met hardloop?”. Ek vermoed die inperking het onbewustelik ons remme so ‘n bietjie aangedraai, en het ons fisies tot stilstand gebring. Maar wat van ons harte en gedagtes? Op ‘n sekere vlak kan hierdie Covid-19-tyd ons gemoedere eerder onrustig maak en spanning bring.

Hoor wat skryf Paulus in Filippense 4 : 6 – 7:
⁶Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. ⁷En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Daardie goed wat so in my gemoed en gedagtes woel; daardie dinge wat my angstig maak; daardie goed wat my dalk geïrriteerd maak – Paulus sê: “Vertel dit vir God!” Ek hou daarvan dat hy die woordjie “alles” gebruik. Hierdie woordjie in Grieks beteken presies dít: “alles, enige, elke, die hele”. Paulus sê hier dat ons oor niks angstig moet wees nie, maar wél dat ons na God daarmee moet gaan.

Want wat bring ons gesprekke mét, en soek ná God, vir ons? Paulus sê: “Vrede …” En gaan lees mooi hoe Paulus hierdie vrede beskryf: “wat alle verstand te bowe gaan”. Om by God stil te word, bring in die eerste plek vir my ‘n ongekende vrede en kalmte; ‘n vrede wat ook ‘n invloed sal hê op my woorde, op my dade, op my gesindhede.

Mag hierdie kosbare vrede van God vandag soos ‘n golf oor jou spoel. Mag jou gedagtes en gemoed stil word. Mag God jou lewe in sy hande neem, en jou bewaar.

Mooi dag – wees veilig, soek God

Posted in nuus.