21 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

In hierdie inperkingstyd is ons geskei van ons geliefdes. Ons kontak met ons familie en vriende word beperk tot telefoonoproepe, Whatsapp-boodskappe en Facebook. Gister ry ek by ‘n huis verby waar die bure hulle kampstoele weerskante van die “devil’s fork”-heining staan gemaak het en heerlik deur die heining kuier. Iemand vertel hoe sy en haar buurvrou beurte neem om kos te maak, dan gee hulle dit deur die heining vir mekaar aan, en dan eet hulle so “deur die heining” saam. By Torings van Hoop word kos deur die heining vir die hongeriges aangegee. Ons praat met mekaar by die winkel deur gesigsmaskers. In Italië sing mense van hulle balkonne af vir mekaar. Dit voel asof ons lewens op hierdie stadium gereguleer word deur die skeidings waartoe ons deur ‘n virus, die regering en gesonde verstand verplig word.

Romeine 8 : 38 & 39:
³⁸Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte ³⁹of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Goddank: niks kan skeiding bring tussen my en God nie … niks nie. Daar is niks wat ek of jy, of enigiets of enigiemand, in hierdie wêreld kan doen, wat kan maak dat God vir jou of my minder lief is nie … niks nie. In ‘n wêreld van isolasie kan niks ons van God isoleer nie. By God hoef ek nie eers my hande te “sanatize” nie. Om met God te praat hoef ek nie eers my gesigsmasker op te sit nie. Trouens, in hierdie “skeidingstyd” kom staan God juis naby my; is sy hand op my skouer, en kan ek sy liefdevolle glimlag vir my oop en breed sien.

Laat God toe om vandag naby jou te wees. Laat Hom toe om enige moontlike skeidings wat daar nog mag wees tussen jou en Hom, af te breek. Wees vandag oop en eerlik voor God, maar ook veilig in die wete: niks kan jou van die liefde van God skei nie.

Mooi dag vir jou

Wees veilig, staan naby die Here

Posted in nuus.