20 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Voel dit vir jou ook soms of jou lewe beheer word deur magte buite jouself en buite jou beheer wat vir ons voorskryf en ons lewens probeer bepaal.? Vir seker beleef ons in hierdie tyd dit!

Dit was ook waar van die vroeë kerk in die eerste eeu n.C., toe die Romeinse keiser Domitianus absolute mag gehad het. Hy het homself tot god verklaar en mense moes hom aanbid met: “Die keiser is here.” Die resultaat was dat die Christene juis daaroor vervolg is, omdat hulle bely het: “Christus is Here!” Die vroeë kerk is op allerhande wrede wyses vervolg en baie Christene is doodgemaak t.w.v. hulle geloof.

In die stad Efese het Domitianus vir homself ‘n tempel laat bou. In die tempel was daar ‘n standbeeld van hom waar hy met sy regterhand omhoog gestaan het en ‘n boekrol daarin vasgehou het – as simbool dat hy die geskiedenis in sy hand gehad het en die uitkoms daarvan sou bepaal.

‘n Mens kan jou indink hoe ontnugterend dit vir die Christene van destyds moes gewees het. Wie was in beheer van die wêreldgeskiedenis? Hulle geloof is tot die uiterste getoets en baie het begin vra of geloof in God en Christenskap nog hoegenaamd die moeite werd was. Was hulle geloof en belydenis dat Jesus die Here is die swaarkry en lyding werd? Het God, Christus en Christenskap hulle nie dalk gefaal nie?

Vir hierdie ontnugterde kerk gee die Here, deur die apostel Johannes wat op die eiland Patmos vasgekeer was, ‘n visioen, ‘n beeld, ‘n blik op die realiteit vanuit God se perspektief – Openbaring 5 : 1:
“¹In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ‘n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. ²Toe het ek ‘n sterk engel gesien wat met ‘n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?”
³Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. ⁴Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. ⁵Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”

Die vroeë kerk in vervolging moes hierdie ontdekking maak: dit was toe nie Domitianus wat die geskiedenis in sy hand gehad het nie, maar altyd die Vader op die troon! En die Een wat die mag en gesag het om die boekrol oop te maak en hierdie geskiedenis bekend te maak, is die Leeu van Juda – dit is Jesus, die oorwinnende lewende Here! Die geskiedenis van die wêreld, en die uitspeel daarvan, is volledig in God se hand!

Dit is ook waar van jou en my persoonlike lewensgeskiedenisse. Ons geskiedenis word nie bepaal deur politieke magte, óf die menings van ons tyd, óf Covid-19 nie. Nee, jou en my geskiedenis is in God se hand. God is die een wat bepaal hoe ook hierdie pandemie gaan uitdraai. Hy is die Een wat bepaal hoe jou en my persoonlike lewenspad uitdraai.

Daarom vra hierdie tyd geloof in God se mag, en sy geskiedenis soos Hy dit bepaal. Dit vra dat ek God ook sal vertrou vir my persoonlike geskiedenispad. Kyk daarom maar vorentoe, vertrou die Here, want Hy is waarlik in beheer.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.